Geen borg vir oudlanddros

Kennedy bly agter tralies
Regter Marlene Tommasi het gister Jaco Kennedy se aansoek om borgtog van die hand gewys.
Kristien Kruger
’n Oudlanddros wat daarvan beskuldig word dat hy twee vroue in Windhoek verkrag het, se derde poging om op borgtog vrygelaat te word, is gister in die hoërhof in Windhoek van die hand gewys.

Kennedy is in Januarie 2015 saam met sy medebeskuldigde, Ray Cloete, op ’n klag van verkragting in hegtenis geneem.

Hulle het glo op 3 Januarie 2015 die 43-jarige slagoffer langs die pad tussen die Katutura-staatshospitaal en Windhoek Sentrale Hospitaal verkrag.

Kennedy is daarna op borgtog van N$3 000 vrygelaat. Hy is egter weer op 30 Januarie 2016 in hegtenis geneem op ’n tweede klag van verkragting wat verband hou met ’n voorval in Desember 2015 toe hy glo die slagoffer in sy voertuig verkrag het.

Beide mans het aan die begin van hul verhoor onskuldig gepleit.

Ná Kennedy se tweede inhegtenisname is hy borgtog geweier en is sy formele aansoek om borgtog ook in die landdroshof in Katutura van die hand gewys. Hy het teen dié beslissing in die hoërhof voor regter Alfred Siboleka geappelleer, maar sy aansoek was onsuksesvol.

NUWE FEITE

Hoewel Kennedy se nuutste aansoek om borgtog op nuwe feite gebaseer was, het regter Marlene Tommasi steeds die aansoek van die hand gewys.

Kennedy het hierdie keer vir die hof gevra om sy aansoek toe te staan sodat hy vir sy verhoor kan voorberei en kan werk om geld te verdien om sy regsverteenwoordiger te betaal.

Hy het ook verwys na ’n petisie wat deur sowat 30 mense onderteken is waarin hy eis dat hy vrygelaat word.

Die staat het sy aansoek teengestaan op grond van onder andere die belang van regspleging en publieke belang, asook die moontlikheid dat hy by getuies of die ondersoek sal inmeng of op die vlug sal slaan.

Hulle het ook aangevoer dat Kennedy, indien hy vrygelaat word, waarskynlik soortgelyke oortredings sal pleeg soos hy na bewering in die verlede gedoen het terwyl hy vry op borgtog was.

ANDER SAKE

Kennedy is ook in verskeie siviele verrigtinge betrokke.

Hy het ’n saak teen die staataanklaer Innocentia Nyoni gemaak waarin hy eis dat sy van sy saak verwyder moet word. Dié aansoek is egter van die hand gewys, asook Kennedy se aansoek om verlof tot appèl om teen die beslissing in die hooggeregshof te appelleer.

Kennedy het ook ’n aansoek gebring om ’n gedeelte van die Strafproseswet uit te daag en dié saak is nog hangend.

Kennedy meen hy is geregtig om getuies in persoon te sien terwyl hulle getuig en dat die gebruik van kringtelevisiekameras sy regte skend.

Dit hou spesifiek verband met die klaagsters wat die twee klagte van verkragting teen hom aanhangig gemaak het.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!