• Tuisblad
  • Howe
  • ‘Geneser’ beboet, word binnekort gedeporteer
Mnr. Coster Wirosi wat verlede maand gearresteer is nadat hy hom as ‘n tradisionele geneser by Sibandas's Clinic in Eenhana in die Ohangwenastreek voorgedoen het, is met N$20 000 beboet en sal binnekort na Zimbabwe gedeporteer word. Foto Tuyeimo Haidula
Mnr. Coster Wirosi wat verlede maand gearresteer is nadat hy hom as ‘n tradisionele geneser by Sibandas's Clinic in Eenhana in die Ohangwenastreek voorgedoen het, is met N$20 000 beboet en sal binnekort na Zimbabwe gedeporteer word. Foto Tuyeimo Haidula

‘Geneser’ beboet, word binnekort gedeporteer

Kliniek en waarsêerysentrum gesluit
Die Zimbabwiër het skuldig gepleit op al drie aanklagte teen hom en is met N$20 000 beboet.
Tuyeimo Haidula
Mnr. Coster Wirosi, wat verlede maand in hegtenis geneem is omdat hy hom as ‘n tradisionele geneser by Sibandas's Clinic op Eenhana in die Ohangwenastreek voorgedoen het, is met N$20 000 beboet en sal binnekort na Zimbabwe gedeporteer word.

Wirosi (45) is op 15 Februarie in hegtenis geneem ná ’n geheime operasie wat deur polisiehoofinspekteur Christina van Dunem Dafonsech gelei is. Hy het “mediese en geestelike behandeling” verskaf aan inwoners van Eenhana en ander van verafgeleë dorpies wat antwoorde gesoek het vir hul “troebel lewens”.

Dafonsech het haar voorgedoen as 'n kliënt van Wirosi om bewyse te kry om sy manipulerende maniere waaronder plaaslike inwoners gely het, bloot te lê.

Om bewyse te kry van sy manipulerende streke waarmee hy plaaslike inwoners ingeloop het, het Dafonsech haar vermom as ‘n kliënt wat van Wirosi se dienste gebruik wil maak.

Hy het op 3 Maart vanjaar in die landdroshof op Eenhana verskyn en is op 8 Maart gevonnis.

Hy het skuldig gepleit op drie aanklagte, waaronder dat hy ‘n valse voorstelling gemaak of ‘n bedrieglike daad gepleeg het met die doel om Namibië binne te kom of hier te bly.

Hy is aangekla vir die oortreding van Artikel 30(1a) van die Wet op Immigrasiebeheer van 1993. Die beskuldigde het slegs ‘n tydelike verblyfpermit gehad, wat hom verbied het om in Namibië te werk. Hy is dus onregmatig en onwettig in diens van ‘n ander persoon as ‘n tradisionele geneser.

Hy is ook daarvan aangekla dat hy die proklamasie vir die onderdrukking van heksery oortree het.

Die adjunkkommissaris vir misdaadondersoeke in die Ohangwenastreek, insp. Zacharias Amakali, het gesê Wirosi is soos volg gestraf: ‘n boete van N$5 000 of vyftien maande gevangenisstraf vir die eerste klag, N$5 000 of vyftien maande vir die tweede klag en ‘n boete van N$10 000 of tronkstraf van drie jaar vir die derde klag.

“Hy het die boete betaal en hy word aangehou op ‘n lasbrief ingevolge die Wet op Immigrasiebeheer, hangende ‘n regter se besluit oor deportasie. Geen ander persoon is as medepligtige in die saak aangekla nie,” het Amakali gesê.

Hy het bygevoeg Wirosi se kliniek wat langs sy huis is en al vir meer as 15 jaar as ‘n waarsêerysentrum funksioneer, is gesluit. Die finansiële rekords toon dat kliënte konsultasiefooie moes betaal – van N$50 tot net enigiets meer as N$8 000, afhangend van die ingewikkeldheid van die kwaal.

Dafonsech se besoek aan die Ohangwenastreek het omstredenheid veroorsaak en wat veronderstel was om ‘n twee weke lange sending onder opdrag van die inspekteur-generaal van die Namibiese polisie (Nampol), lt.genl. Sebastian Ndeitunga, te wees, is kortgeknip.

Ndeitunga het Dafonsech opdrag gegee om die pastore van “valse” kerke te ondersoek. Sy is bekend daarvoor dat sy selfverklaarde tradisionele dokters en profete in Windhoek se informele nedersettings vastrek en het haar daartoe verbind om gemeenskapslede te help wat in die kloue van dié sogenaamde kerke beland.

Die polisiehoof se bekommernis is dat die probleme wat dié kerke veroorsaak nie net lede van die publiek raak nie, maar ook tot by polisiebeamptes strek. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer