• Tuisblad
  • Howe
  • Gevangene eis N$1 miljoen ná ‘aanranding’ in tronk
'n Gevangene in Walvisbaai se korrektiewe sentrum eis N$1 miljoen in skadevergoeding vir “onmenslike en vernederende behandeling” in die tronk. Foto Argief
'n Gevangene in Walvisbaai se korrektiewe sentrum eis N$1 miljoen in skadevergoeding vir “onmenslike en vernederende behandeling” in die tronk. Foto Argief

Gevangene eis N$1 miljoen ná ‘aanranding’ in tronk

Kristien Kruger
’n Gevangene wat in Walvisbaai se korrektiewe sentrum aangehou word, eis N$1 miljoen in skadevergoeding van onder meer die minister van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit.

Die eis volg nadat ’n lid van die Namibiese korrektiewe dienste hom glo in 2018 in die tronk aangerand het.

Die minister en vyf ander verweerders beweer die saak het reeds verjaar aangesien die beweerde aanranding op 14 April 2018 plaasgevind het en afdeling 39(1) van die Polisiewet van 1990 stipuleer dat enige siviele saak teen die staat of enige ander persoon ingevolge hierdie wet, binne 12 maande ná die voorval ingestel moet word.

“Die eis is op 12 Augustus 2021 aanhangig gemaak en die beweerde voorval het op 14 April 2018 plaasgevind. Die tydperk tussen dié datums is 43 maande en 4 dae. Die eis het dus verjaar,” voer die verweerders in hul pleitstukke aan.

Die partye het Woensdag in die hoërhof in Windhoek vergader om verhoordatums vas te stel. Die kwessie van verjaring sal eers afgehandel word en indien die hof bevind dat die eis nie verjaar het nie, sal die saak op sy meriete verhoor word.

AGTERGROND

Jonathan Kolela is ’n gevangene in die korrektiewe geriewe op Walvisbaai en beweer ’n lid van die korrektiewe dienste, ’n sersant Kaulige, het hom aangerand.

“Hy is in die gesig geklap en in sy maag, teen sy kop en oraloor sy liggaam geskop,” lui sy eis.

Kolela beweer hy het ernstige beserings opgedoen en moes geweldige skok, pyn, lyding en ongemak as gevolg daarvan verduur.

Die minister en vyf ander verweerders wat onder meer die inspekteur-generaal van die Namibiese polisie en die direkteur-generaal van korrektiewe dienste insluit, skep ’n heel ander prentjie in hul pleitstukke.

“’n Kerkdiens is by die tronk gehou en gevangenes wat dit nie wou bywoon nie, moes terug na hul selle keer. Kolela wou nie die diens bywoon nie, maar het geweier om terug na sy sel te gaan. Kaulige het Kolela liggies in sy sel in gestoot.

“Kolela het geval, waarna hy opgestaan het, die sel deur oopgestoot het en voordat Kaulige die seldeur kon sluit, het hy uitgekom. Hy was baie aggressief en hy en Kaulige het in ’n struweling betrokke geraak.”

Kolela ontken dat hy ’n aggressiewe houding gehad het en stel dat Kaulige hom nie net liggies gestamp het nie.

Die verweerders beweer Kolela het net ligte beserings opgedoen, en hy is by die tronk se kliniek behandel.

Kolela eis N$1 miljoen in skadevergoeding vir die “onmenslike en vernederende behandeling” wat hy moes verduur, asook sy liggaamlike en sielkundige integriteit wat na bewering inbreuk op gemaak is.

“Die verweerders ontken ten sterkste dat die eiser geregtig is op die vergoeding wat geëis word en bid dat die eis met koste van die hand gewys word,” sluit die verweerders hul pleitstukke af.

Nog ’n kwessie wat saam met die beweerde verjaring aangehoor sal word, is die verweerders se bewering dat Kolela hulle in hul persoonlike hoedanigheid dagvaar en nie in hul professionele hoedanigheid nie. Kolela en sy regsverteenwoordiger hou vol al ses verweerders is in hul professionele hoedanigheid aangekla. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!