Gevangene probeer wéér eis by ministerie
Aansoek van die hand gewys
Haufiku het beweer 'n medegevangene het hom op 13 Julie 2021 tydens 'n geveg met 'n draad in sy lae rug gesteek en aangevoer die NCS het versuim om mediese behandeling aan hom te verskaf.
’n Gevangene van die Hardap korrektiewe geriewe op Mariental, wat verlede jaar N$50 000 ontvang het nadat ’n lid van die korrektiewe dienste hom aangerand het, was onlangs onsuksesvol in ’n poging om nog N$450 000 te eis.
Die ministerie van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit het in Desember verlede jaar N$50 000 aan die veroordeelde misdadiger, Kristof Haufiku, betaal nadat hy ’n saak by die hoërhof in Windhoek aanhangig gemaak het.
Haufiku het aangevoer dat hy ernstige beserings opgedoen het nadat ’n lid van die Namibiese Korrektiewe Dienste (NCS) sy linkerbeen op 12 Januarie 2021 met ’n tronksel se deur geslaan het.
Die hof het bevind daar was genoegsame bewyse dat Haufiku se beserings – ’n oop wond en swelling op sy linkerbeen – ooreengestem het met die aanval wat hy beskryf het.
TWEEDE SAAK FAAL
In Januarie 2022 het Haufiku nog ’n aansoek by die hoërhof aanhangig gemaak waarin hy N$450 000 geëis omdat hy na bewering tydens ’n groepgeveg ernstig beseer is. Hy het aangevoer die NCS-personeel het ’n verantwoordelikheid gehad om hom te beskerm.
Die aansoek is verlede week Woensdag deur regter Collins Parker van die hand gewys nog voordat die ministerie met sy verdediging kon wegspring.
Haufiku het aangevoer ’n medegevangene het hom op 13 Julie 2021 tydens ’n geveg met ’n draad in sy lae rug gesteek. Hy voer aan die NCS het versuim om mediese behandeling aan hom te verskaf.
Haufiku het die getuiebank ingeneem en ná sy getuienis het hulle hulle saak gesluit sonder om enige verdere getuies te roep.
Die staatsprokureur het daarna ’n aansoek om absolusie van instansie gebring. Dié aansoek word gebring wanneer ’n party beweer die ander party het nie genoegsame bewyse opgelewer om hul bewerings te staaf nie. Parker het dié aansoek toegestaan.
UITSPRAAK
Haufiku het aangevoer drie ander gevangenes en twee NCS-beamptes het die voorval aanskou, maar Parker het in sy uitspraak daarop gewys dat hierdie beweerde ooggetuies nie geroep is om te getuig nie.
Parker het verder daarop gewys dat die hof geen bewyse ontvang het van die beweerde ernstige besering wat Haufiku glo opgedoen het nie.
“Tydens kruisondervraging het die eiser [Haufiku] toegegee dat daar nie sulke mediese bewyse is nie.”
Hoewel Haufiku getuig het dat hy ’n mediese ondersoek ondergaan het, is geen gesondheidspaspoort of ander mediese dokumente as bewyse ingedien nie.
“In die afwesigheid van ’n geloofwaardige mediese verslag en mediese bewyse is die hof nie in staat om ’n eis van liggaamlike besering geregtelik te bepaal nie,” lui Parker se uitspraak.
Haufiku het ook getuig hy kon nie X-strale laat neem nie omdat hy dit na bewering nie kon bekostig nie.
“Dit kan onmoontlik waar wees, want hy is na ’n staatshospitaal geneem.”
–[email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie