‘Gewoontestropers’ vrygelaat

Landdros begaan ’n fout
Die hoërhof het twee mans, wat na bewering hangende stropery-verwante sake in verskeie dorpe teen hulle het, vrygelaat.
Iréne-Mari van der Walt
Die twee mans wat tereggestaan het op aanklagte van stropery, Hermanus Kharugab en Ashley Eiseb, is ingevolge ’n uitspraak in ’n hersieningsaansoek in die hoërhof in Windhoek vrygelaat.

Eiseb, wat volgens ’n lid van die Nossob Misdaadvoorkomingsforum, ’n “groot probleem is”, en Kharugab is in November verlede jaar in hegtenis geneem ná hulle glo ’n motor gehuur het om wild in die Okahandja-omgewing te stroop.

Regters Boas Usiku en Naomi Shivute het die skuldigbevindings en vonnisse teen beide mans tersyde gestel en beveel dat hulle uit aanhouding vrygelaat moet word.

Die regters glo die voorsittende landdros, wat die mans skuldig bevind het nadat hulle skuldig gepleit het, het ’n fout begaan toe sy waterbokke as jagwild, asook gemsbokke en koedoes as beskermde wild bestempel het.

Dit is juis andersom – gemsbokke en koedoes is jagwild terwyl waterbokke beskermde wild is.

Die regters verduidelik in hul gesamentlike uitspraak dat dié verwarring die landdros se ondervraging belemmer het en dat die landdros se skuldigbevinding verkeerd is.

“Dis ’n outjie [Eiseb] wat ons al lankal pla,” het ’n lid van die misdaadvoorkomingsforum in November aan Republikein gesê.

Die bron het ook reeds toe sy misnoeë uitgespreek oor die feit dat vermeende stropers skuldig pleit om ligter vonnisse te ontvang.

“Ons ken nogal baie van hulle en ons maak ’n punt daarvan om hulle te onthou, want hulle kom elke keer los omdat hulle skuldig pleit en dan ’n boete kry. Omdat hulle skuldig pleit, is almal tog te bly dat die saak opgelos is en daarom word daar nie gekyk of daar vorige klagte teen hulle is nie,” het die bron gesê.

In November toe Eiseb en Kharugab in hegtenis geneem is, moes ’n boer glo van Seeis af ry om ’n staatsaanklaer in Windhoek te gaan haal aangesien die staatsaanklaer na bewering nie vervoer gehad het nie.

Adjunkkommissaris Veikko Armas van die Namibiese Korrektiewe Dienste het bevestig dat Eiseb en Kharugab einde Januarie uit aanhouding vrygelaat is. Daar is glo egter steeds hangende sake teen hulle in Okahandja.

Lede van die misdaadvoorkomingseenheid het in November gesê hulle het reeds op drie van Kharugab se voertuie beslag gelê en dat daar glo ook hangende sake teen Eiseb in Witvlei, Gobabis, Windhoek en Omaruru is.

Dié lede het Kharugab glo in 2022 agterna gesit nadat hy na bewering ’n koedoe in die Wilhelmstal-omgewing gestroop het.

“Ons het hom agterna gesit. Ons was nog in die voertuig toe hy uitgespring en op ons begin skiet het. Ons het ’n saak van poging tot moord en onwettige jag teen hom aanhangig gemaak,” het die bron destyds gesê.

“Ons het al drie van sy voertuie gekonfiskeer en hom laat toesluit, maar hy word elke keer weer en weer op borgtog vrygelaat,” het die bron ná hul arrestasie in November gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!