Die hooggeregshof in Windhoek Foto argief
Die hooggeregshof in Windhoek Foto argief

Gimnastiek-konflik draai in hoogste hof

Appèlaansoek van die hand gewys
Nog 'n poging deur die NGF se voormalige president om te bewys dat 'n mede-sportadministrateur lasterlike uitlatings teen haar gemaak het, het onlangs misluk.
Kristien Kruger
Die hofdispuut tussen die voormalige president van die Namibiese Gimnastiekfederasie (NGF) en ’n hoofafrigter by die Walvisbaai-gimnastiekklub, het onlangs in die hooggeregshof gedraai.

In ’n uitspraak wat verlede week gelewer is, is die voormalige president van die NGF, Sonja Olivier, se appèlaansoek waarin sy ’n uitspraak van die hoërhof uitgedaag het, van die hand gewys.

Die aansoek is teen Roumiana Kostin gebring op grond van bewerings dat sy lasterlike uitsprake oor Olivier gemaak het waarin sy haar van oneerlikheid en nepotisme beskuldig.

Die aansoek is in die hoërhof in Windhoek van die hand gewys en Olivier se appèlaansoek teen dié beslissing, het verlede week misluk.

AGTERGROND

Buiten vir Olivier se destydse posisie as president van die NGF, is sy ook ’n ouer van twee gimnaste.

Sy het Kostin, ’n mede-sportadministrateur, gedagvaar nadat Kostin ’n klag by die gimnastiekbeheerliggaam ingedien het.

Sy het Olivier beskuldig van gedrag wat onvanpas is vir haar amp as president en dat sy glo haar eie gimnasdogters as beoordelaar tydens kompetisies bevoordeel.

Olivier is glo voorheen ’n skriftelike waarskuwing gegee omdat sy na bewering haar dogters as beoordelaar in ’n kompetisie bevoordeel het.

Op 3 Mei 2019 het Olivier aangekondig dat haar dogters nie meer aan gimnastiek in Namibië gaan deelneem nie en dat sy hulle self sal afrig. Sy het hulle onttrek aan die gimnastiekklub wat sy besit.

Dit was egter toe Kostin glo geweier het om Olivier se kinders op haar versoek aan 'n oefenkamp te laat deelneem, dat Olivier die organiseerder van diskriminasie teen haar dogters beskuldig het.

“Sy het toe aangekondig dat sy ’n amptelike vergadering gaan belê om haar ontevredenheid oor die weiering aan te spreek.

“Kostin was van mening dat dit verkeerd van Olivier was om ’n amptelike vergadering te belê om ’n private grief te hanteer,” lui die hofuitspraak.

“Olivier het egter voortgegaan om die vergadering te belê, maar Kostin het geweier om dit by te woon en het eerder ’n klag teen Olivier by lede van die uitvoerende raad ingedien.”

UITSPRAAK

Olivier het daarna ’n hofgeding aanhangig gemaak waarin sy Kostin van laster beskuldig het met die doel om haar as ’n oneerlike persoon uit te beeld wat nepotisme uitoefen.

Kostin het ontken dat sy Olivier belaster het en eerder volgehou dat haar stellings wesenlik waar was en in elk geval deur gekwalifiseerde privilegie beskerm is.

Die hoërhof in Windhoek het Olivier se aansoek op grond van die beweerde laster van die hand gewys. ’n Gepaardgaande kostebevel is ook teen Olivier uitgereik.

Olivier was egter ontevrede met die hoërhof se uitspraak en het die hooggeregshof genader om teen die uitspraak te appelleer. Dié appèlaansoek is verlede week van die hand gewys.

“’n Appèl teen ’n verhoorhof se bevindings moet ’n strukturele fout, benaderingsfout, regsdwaling of ’n geregtigheidsdwaling demonstreer.

“Hierdie hof is nie tevrede dat die gronde van appèl aan die toets vir appèl-inmenging voldoen nie,” lui die uitspraak wat op 1 Augustus deur ’n volbank gelewer is.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer