Gustavo weer agter tralies
Regter se beslissing was nie korrek
Nadat een van die Fishrot-beskuldigdes, Ricardo Gustavo, byna 'n jaar lank vry op borgtog was, is hy vanaf Vrydag weer in aanhouding by die Windhoek Sentrale Gevangenis.
Al die Fishrot-beskuldigdes is weer agter tralies nadat die enigste een wat vry op borgtog was, ingevolge ’n hofbevel Vrydag na die Windhoek Sentrale Gevangenis moes terugkeer.
Dit volg nadat die staat die hoërhof se beslissing om Ricardo Gustavo se borgtogaansoek toe te staan, in die hooggeregshof geappelleer en geseëvier het. ’n Volbank het beslis dat regter Herman Oosthuizen verkeerdelik beslis het toe hy in Desember 2021 borgtog van N$800 000 aan Gustavo toegestaan het.
Nadat Gustavo vrygelaat is, het die staat aansoek om verlof tot appèl by Oosthuizen ingedien om teen die saak in die hooggeregshof te appelleer, maar Oosthuizen het die staat se aansoek van die hand gewys.
Daarna het die staat ’n versoek aan die hooggeregshof gerig om Oosthuizen se beslissing te hersien en die versoek is toegestaan.
Regters David Smuts, Elton Hoff en Sylvestor Mainga het op 14 November die appèlsaak in die hooggeregshof aangehoor en het Vrydag uitspraak gelewer.
Dit is Gustavo se derde Kersfees in aanhouding.
Gustavo het in Mei 2020 die eerste keer by die Windhoekse landdroshof aansoek om borgtog gedoen. Die aansoek is in Junie 2020 van die hand gewys en Gustavo het teen dié beslissing in die hoërhof geappelleer, maar sy appèl was onsuksesvol.
Sy volgende aansoek, wat deur Oosthuizen toegestaan is, was op nuwe feite gebaseer omdat beskuldigdes nie verskeie aansoeke op dieselfde feite kan bring nadat aansoeke misluk het nie.
UITSPRAAK
Die hooggeregshof se uitspraak het aangedui dat geen van die nuwe feite waarop Gustavo se aansoek om borgtog gebaseer was, tot die hoërhof se gevolgtrekking kon lei om sy aansoek toe te staan nie. Veral in die konteks dat die vorige borgtogaansoek van die hand gewys is.
“Die hoërhof moes vyf nuwe feite oorweeg en tot ’n gevolgtrekking kom. Regter Herman Oosthuizen se uitspraak het slegs kortliks na twee van die nuwe feite verwys.”
“Hy het versuim om die impak van hierdie nuwe feite vas te stel of vas te stel of dit die hof aangespoor het om borgtog toe te staan nie. Die hof het nie sy diskresie reg uitgeoefen nie,” lui die hooggeregshof se uitspraak.
Ander redes waarom die staat se appèl suksesvol was, is volgens die uitspraak omdat die hoërhof versuim het om die bewyse van die Teenkorrupsiekommissie van Namibië (ACC) se hoofondersoekbeampte, Andreas Kanyangela, te oorweeg.
“Die bewerings teen die respondent is ernstig en handel oor groot bedrae geld (sowat N$150 miljoen), asook kriminele optrede wat daarop gemik is om staatshulpbronne te herlei tot voordeel van homself en sy medebeskuldigdes binne ’n sindikaat waarby ministers betrokke is.”
“Die hof het versuim om die erns van die oortreding en die impak daarvan op die publiek sowel as die nadelige impak op die oppergesag van die reg in ag te neem. Aanspreeklikheid is ook ’n kwessie waarby die publiek belang het.”
Die hooggeregshof het ook in sy uitspraak verwys na twee voorvalle waar Gustavo homself weerspreek het.
In sy mees onlangse getuienis het hy erken dat hy N$22,5 miljoen uit sy betrokkenheid by Namgomar gebaat het, maar ontken dat dit die produk van onwettige bedrywighede was. Hy het wel tydens sy eerste borgtogaansoek in die Windhoekse landdroshof bewerings ontken dat hy geld van Namgomar ontvang het.
Hy het ook tydens sy onlangse aansoek om borgtog getuig dat hy wel bewus was van medebeskuldigde, James Hatuikulipi, se betrokkenheid by ’n korporatiewe entiteit Tundavala Investments.
“Hierdie antwoord staan in skrille kontras met sy antwoorde by die eerste borgtogaansoek toe hy gevra is oor Tundavala wat betalings ontvang het. Hy het die bestaan daarvan ontken deur te sê: ‘Wie is Tundavala Investments?’.”
Tundavala het volgens die ACC se ondersoek USD4 miljoen van Samherji ontvang wat glo na ’n rekening in Dubai herlei is.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie