• Tuisblad
  • Howe
  • Hawelose vergoed ná ‘aaklige’ aanhouding
Homeless man
Homeless man

Hawelose vergoed ná ‘aaklige’ aanhouding

Polisie moet opdok vir onregmatige arrestasie
'n Hawelose Swakopmunder se lewe kan binnekort anders lyk ná hy met 'n skadevergoedingseis geslaag het.
Ronelle Rademeyer
’n Hawelose man van Swakopmund sal binnekort oor ’n eie bankrekening en geld beskik ná sy eis om skadevergoeding teen die polisie in die hoërhof in Windhoek geslaag het.

Regter George Coleman het vroeër vandeesmaand gelas die minister van veiligheid en sekuriteit moet mnr. Gregorey Gilbert Naomab vergoed ná hy drie jaar gelede onregmatig in hegtenis geneem en aangehou is nadat hy aanvanklik van opsetlike saakbeskadiging verdink is.

Hy oorleef tans op straat deur leë koeldrank- en ander blikkies te versamel en as skrootmetaal te verkoop.

Selfs nadat CCTV-beeldmateriaal getoon het Naomab het hom nie aan die misdryf skuldig gemaak nie, is hy geboei, in hegtenis geneem en agter in ’n vangwa gelaai.

Die 32-jarige man sê sy aanhouding van vroeg die oggend van 27 Februarie 2019 tot 1 Maart 2019, het hom nie net van sy vryheid ontneem nie, maar erge emosionele stres en sielkundige trauma veroorsaak.

Dit was vir hom ’n verleentheid en vernedering om ten aanskoue van ander mense in hegtenis geneem te word, en het sy eer gekrenk, lui sy eedsverklaring.

Dit blyk uit die stukke dat hoewel die polisie besef het Noamab is onskuldig, het hulle nietemin besluit om hom eers omstreeks 12:00 op 1 Maart 2019 vry te laat.

Naomab het in die hof getuig dat hy daarna vanaf die Swakopmund-polisiekantoor na die een in Mondesa geneem is waar ’n polisiebeampte vir hom ’n emmer met water en ’n lap gegee en hom versoek het om twee polisievoertuie en een privaat voertuig te was voordat hy vry was om te gaan.

Naomab beskryf in sy eedsverklaring die haglike toestande in die sel waarin hy aangehou is. Hy sê dit was “vieslik vuil” en die stank was ondraaglik. Die komberse was stowwerig en het so na uriene gestink, dat hy dit nie kon gebruik nie en moes met net ’n dun matras tevrede wees.

Stampmielies bedek met “’n pienk sous” was al wat aan die gevangenes voorgesit is, en hy kon dit nie eet nie, sê Naomab in sy verklaring.

Hy is deur adv. Jack Gerber van Suid-Afrika, in opdrag van mnr. Alfred Ellis van Ellis Attorneys op Swakopmund verteenwoordig.

Ellis het gister aan Republikein gesê sy kliënt beskik nie oor ’n identiteitsdokument nie en moes eers daarvoor by die ministerie van binnelandse sake, immigrasie en veiligheid en sekuriteit aansoek doen voordat hy vir hom ’n bankrekening kan open.

Naomab het versoek dat die bedrag wat die minister van veiligheid en sekuriteit ingevolge die hof se bevel aan hom moet betaal, nie bekend gemaak word nie. Dit is omdat hy as hawelose kwesbaar is.

Die hof het ook gelas dat die verweerder sy regskoste betaal. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!