Die Health Defence League se voorsitter, die tandarts dr. Martin Wucher. Foto verskaf
Die Health Defence League se voorsitter, die tandarts dr. Martin Wucher. Foto verskaf

HDL benodig N$3,5 m. om Shangula te dagvaar

Sê gesondheidsowerhede het menseregte geskend
Die voorsitter van die Health Defence League het Dinsdag tydens 'n geleentheid teenwoordiges op hoogte gebring van die saak wat teen die land se gesondheidsowerhede aanhangig gemaak is.
Yandi Du Plessis
Nuusredaksie – Die Health Defence League (HDL), wat bestaan uit konserwatiewe gesondheidspraktisyns, sakelui en aktiviste wat gekant is teen die regering se Covid-maatreëls – wat entstowwe insluit – benodig glo N$3,5 miljoen om Kalumbi Shangula, die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, suksesvol te dagvaar.

Tydens ’n geleentheid wat Dinsdag in die hoofstad plaasgevind het, het dié vereniging se voorsitter, die tandarts dr. Martin Wucher, teenwoordiges op hoogte gebring van die saak wat teen die land se gesondheidsowerhede aanhangig gemaak is. Die HDL beskuldig dié owerhede van die misbruik van staatshulpbronne en skendings van menseregte met betrekking tot Covid-entstowwe.

“Daar is bewys dat baie maatreëls en prosedures wat toegepas is, ondoeltreffend of selfs skadelik was. In baie gevalle is die waarheid nie aan die publiek vertel nie,” het Wucher gesê.

Een van die teenwoordiges was die president van die Republican Party (RP), Henk Mudge, wat self sedert die aanvang van die pandemie sterk teen die entstof gekant is. Mudge het gesê die doel van die hofsaak is om die waarheid na vore te bring en om te verseker dat die regering nie soortgelyke gedrag in die toekoms herhaal nie.

Onder regulasies wat volgens Mudge die regte van Namibiërs geskend het, is dié wat verband hou met distansiëring – veral tydens begrafnisse van mense wat aan Covid-19 dood is.

In 2020 het sy pa, Dirk Mudge, Covid-19 opgedoen wat tot ’n longinfeksie gelei het, luidens destydse mediaberigte. Dirk Mudge is op 26 Augustus in ’n privaat kliniek in Windhoek op die ouderdom van 92 oorlede.

Wucher het gesê die regering het sensuur op die publiek en individue afgedwing “en in sommige gevalle vervolging as hulle hul teen sekere maatreëls uitgespreek het”.

“Die enigste amptelike oplossing vir die pandemie wat die meeste bevorder is, was nog altyd inenting. Die standaardnarratief was dat dit regverdig en doeltreffend is,” het hy gesê.

Die HDL is ’n niewinsgewende vereniging met 500 lede, waarvan 230 finansieel bydra tot sy missie, wat volgens die instelling die verdediging van Namibiërs se grondwetlike regte is.

Wucher sê hulle het besluit om die regering te dagvaar nadat hy herhaaldelik versuim het om “dokumentasie en bewyse te verskaf om die veiligheid en doeltreffendheid van hul maatreëls te toon”.

“Die minister van gesondheid het herhaaldelik versuim om op versoeke vir die inligting te reageer. As gevolg van die minister se weiering om die inligting wat aangevra is te verskaf, het HDL die hooggeregshof genader om die regering te verplig om die inligting te verskaf.

“Ongekende skade is aan ons mense en ons gesondheid aangerig. Die amptenare wat hierdie ramp geïnisieer en gedryf het, moet aanspreeklik gehou word,” het Wucher gesê.

“Die hofsaak is nie ’n persoonlike vendetta nie. Dit sal ’n maatstaf wees van wat ons wette sê en wat ons verkose ampsdraers gedoen het.”

Die ministerie van gesondheid en die Namibiese Medisyne Beheerraad (NMRC) het hul antwoorde aan die HDL in Januarie by die hof ingedien.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!