Headspring heads to court over drilling permit
Headspring heads to court over drilling permit

Headspring nader hof oor permit

Landbouministerie het boorpermit afgekeur
'n Maatskappy wie se permitaansoek geweier is om in die Stampriet-akwifer te boor, nader nou die hoërhof om dié besluit te hersien.
Kristien Kruger
Ellanie Smit – Headspring Investments het ’n aansoek by die hoërhof in Windhoek gebring in ’n poging om die ministerie van landbou, water en grondhervorming se besluit om ’n eksplorasieboorpermit binne die Stampriet-akwiferstelsel aan die maatskappy te weier, te hersien en tersyde te stel.

Die saak is teen 39 respondente aanhangig gemaak en sluit in die landbouminister, die minister van myne en energie, die minister van die omgewing, bosbou en toerisme, die direkteur van waterwese, die voorsitter van die wateradviesraad, die mynkommissaris, die uitvoerende direkteur van die landbouministerie en die regering.

Aminuis se dorpsraad, die Leonardville-raad en 28 individuele boere is ook gelys.

Voorverhoorverrigtinge is geskeduleer vir eerskomende Donderdag en respondente een tot sewe moet binne 15 dae vanaf ontvangs van die aansoek, alle dokumente en inligting verskaf wat gelei het tot die besluit om die permit te weier.

Die respondente het ook 21 dae om aan te dui of hulle beplan om die saak teen te staan.

Die Vereniging vir die Stampriet Akwifer Uraanmyn (Sauma) het gesê hulle het reeds na regskenners uitgereik om boere/respondente se opsies te bespreek.

“Headspring Investments baseer sy hersieningsaansoek op Artikel 18 van die Namibiese Grondwet, wat stel dat administratiewe liggame en administratiewe amptenare billik en redelik moet optree en moet voldoen aan die vereistes wat aan sulke liggame en amptenare toegeken word deur gemenereg en enige toepaslike wetgewing. Die wet stel verder dat persone wat deur handelinge en besluite gegrief word, die reg het om regstelling voor ’n bevoegde hof te soek.”

BESOEDELING

Die maatskappy het ’n mynproses bekend as in situ-loging voorgestel om die uraan te ontgin.

Dit is ’n ontginningsproses wat gebruik word om minerale soos koper en uraan deur boorgate te herwin. In situ-loging werk deur minerale wat natuurlik in ’n vaste vorm voorkom, kunsmatig op te los.

“Finansiering is van kritieke belang, asook ’n ervare regspan. Ons doen ’n beroep op alle Namibiërs om by te dra tot die gesamentlike pogings om die risiko van besoedeling van die enigste varswaterbron in die Stampriet-akwifer te voorkom,” het Sauma gesê.

Die organisasie het verder gesê dat die risiko van besoedeling van hierdie “onvervangbare hulpbron wat van kritieke belang is vir die lewensbestaan, diere en besighede in Stampriet se artesiese kom” ’n wyer negatiewe impak op die hele Namibië kan hê.

Dit kan toerisme, die vleisbedryf, die produksie van groente en gewasse, besproeiingsprojekte en alle sakeondernemings wat op die bogenoemde steun, negatief beïnvloed, voer Sauma aan.

Die Stampriet artesiese kom (SAB) is die grootste in die land, wat oor sowat 60 000 vierkante kilometer in suidoos-Namibië strek en uitbrei na die buurlande Botswana en Suid-Afrika.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 20° | 32° Eenhana: 20° | 24° Oshakati: 21° | 27° Ruacana: 21° | 27° Tsumeb: 21° | 27° Otjiwarongo: 20° | 30° Omaruru: 20° | 32° Windhoek: 19° | 32° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 16° | 22° Swakopmund: 16° | 18° Walvis Bay: 17° | 24° Rehoboth: 19° | 33° Mariental: 22° | 35° Keetmanshoop: 19° | 35° Aranos: 23° | 35° Lüderitz: 14° | 27° Ariamsvlei: 21° | 35° Oranjemund: 13° | 26° Luanda: 26° | 27° Gaborone: 19° | 33° Lubumbashi: 16° | 31° Mbabane: 19° | 27° Maseru: 18° | 30° Antananarivo: 16° | 25° Lilongwe: 20° | 32° Maputo: 23° | 33° Windhoek: 19° | 32° Cape Town: 19° | 25° Durban: 21° | 27° Johannesburg: 17° | 27° Dar es Salaam: 27° | 32° Lusaka: 18° | 32° Harare: 19° | 29° #REF! #REF!