Heckmair se ma getuig vir strawwer vonnisse

‘Ons wil net weet hoekom’
Birgit Heckmair het gister in die hoërhof in Windhoek gesê haar seun se dood het die gesin hard getref.
Kristien Kruger
“Ons kon nooit vrede maak met die grumoord op ons seun nie [. . .] Ons wil net weet hoekom. Wat was die rede?”

So het die vermoorde André Heckmair se ma, Birgit Heckmair, gister in die hoërhof in Windhoek gesê toe sy as getuie geroep is om ter ondersteuning van ’n strawwer vonnis te getuig.

Sy het getuig dat die dood van hul seun die gesin hard getref het. Birgit, haar man en hulle dogter het sielkundige berading ontvang en volgens haar getuienis het haar man ná die moord siek en depressief geraak.

“Hy het sy beste vriend verloor.”

André was 25 jaar oud toe hy op 7 Januarie 2011 in Windhoek in die bestuurdersitplek van sy suster se voertuig doodgeskiet is. Hoewel hy in Switserland by ’n hotelskool gestudeer het, was hy met vakansie in Namibië. Hy moes die dag ná sy moord terug Switserland toe vlieg.

Die twee Amerikaners, Marcus Thomas en Kevan Townsend, wat op 6 September skuldig bevind is aan sy moord, het tot dusver geen skuld erken of berou getoon nie.

André het op die dag van sy moord ’n middagete-afspraak met “Amerikaners” gehad en het sy familie kort voor die afspraak gesien.

“Ons het hom gegroet voor sy afspraak en die volgende keer wat ons hom gesien het, was in die lykshuis met ’n koeëlwond in sy regterwang. Ons kan tot vandag toe nie met daardie beeld [cope] nie,” het sy ma gister getuig.

Die staatsaanklaer Antonia Verhoef het geen verder getuies geroep of verdere betoë gelewer nie en het die staat se saak afgesluit.

NÓG ‘VERTRAGINGSTEGNIEKE’

Met die aanvang van gister se verrigtinge het Thomas en Townsend se regsverteenwoordigers, Salomon Kanyemba en Mbanga Siyomuinji, die hof ingelig dat hulle daardie oggend instruksies gekry het om ’n aansoek te bring ingevolge Reël 317 van die Strafproseswet.

Dié reël laat die beskuldigdes toe om enige onreëlmatighede tydens hulle verhoor uit die weg te ruim. Die beweerde onreëlmatighede is met betrekking tot die rekord wat glo onvolledig was.

Die aansoek moes ingevolge die wet wel binne 14 dae ná hul skuldigbevinding ingedien word, maar die twee verteenwoordigers was van plan om dit saam met ’n aansoek om kondonasie in te dien.

Regter Christie Liebenberg het egter beslis die beoogde aansoek dra nie meriete nie en het partye beveel om met betoë voor vonnisoplegging te begin.

Nadat die staat hul betoë afgehandel het en Kanyemba met betoë ter strafversagting moes begin, het hy weer eens versoek dat die saak uitgestel word.

Kanyemba het gesê hy het sedert 6 September nog nie vir Thomas oor die betoë geraadpleeg nie omdat hulle glo ander kwessies bespreek het. Liebenberg was ooglopend ontevrede met Kanyemba se swak voorbereiding.

“In my 39 jaar op die regbank, is dit die eerste keer dat dit gebeur [. . .] Hou asseblief op met hierdie vertragingstegnieke,” het Liebenberg gesê voordat hy vir Kanyemba 30 minute gegun het om met Thomas te konsulteer.

Ná die pouse het Kanyemba die hof ingelig dat dit nie genoegsame tyd was nie en het versoek dat die saak vandag hervat. Liebenberg het die versoek toegestaan.

“Die saak sal môre [vandag] voortgaan en die verdediging moet terugkom met inligting wat relevant is tot die verrigtinge,” het die regter gewaarsku.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!