'Hoe kan dit nie moord wees nie?'
Beide wel skuldig aan regsverydeling
Azaan Madisia en Steven Mulundu is gister vrygespreek op Shanon Wasserfall se moord.
Regter Christie Liebenberg het gister vir Azaan Madisia en haar broer, Steven Mulundu, vrygespreek op ’n klag van moord.
Liebenberg het beslis dat Madisia nie bedoel het om Shanon Wasserfall dood te maak toe sy haar in 2020 tydens ’n argument gestamp het nie.
“Dit word nie betwis dat die klaer [Wasserfall] se dood ’n nagevolg was van die feit dat die eerste beskuldigde [Madisia] haar gestamp het nie.”
“Die hof is nie oortuig dat sy onwettig en doelbewus die klaer vermoor het nie. Daar is geen bewyse dat die eerste beskuldigde [Madisia] redelik kon voorsien dat haar optrede tot die klaer se dood sou lei nie,” lui die uitspraak.
Madisia en Mulundu is ook vrygespreek op ’n klag van roof met verswarende omstandighede. Liebenberg het beslis dat Madisia se bedoeling toe sy van Wasserfall se persoonlike items ontslae het, nie was om Wasserfall van haar items te beroof nie.
Madisia se doel was eerder om van enige bewysstukke ontslae te raak wat op die moord kon dui, het Liebenberg gesê.
Albei is op ’n klag van regsverydeling skuldig bevind aangesien hulle Wasserfall se liggaam uit Madisia se woning verwyder en in ’n afgeleë gebied tussen die duine naby Walvisbaai begrawe het.
Madisia is ook skuldig bevind op twee klagte van bedrog wat verband hou met ’n selfoon en skootrekenaar wat sy valslik aan haar versekeraar as vermis verklaar het om geldelike uitbetalings te kry.
GEGRIEFDE GESIN
Shannon se bedroefde familie is verpletter gelaat deur die hofuitspraak.
“My hart is stukkend. Wat regter Christie Liebenberg vandag gedoen het, was swak. Ek is hartgebroke, maar ek is ook kwaad. Ek is kwaad omdat die regstelsel ons in die steek gelaat het. Ons wou eenvoudig geregtigheid vir ons kind hê,” het Shannon se pa, Dennis Wasserfall, ná die uitspraak gesê.
“Na ons ses maande na my dogter gesoek het en slapelose nagte gehad het, is dit wat ons kry? Haar liggaam was ontbind, en hulle het net beendere gevind. Beendere! Hoe kan dit nie moord wees nie?” het hy driftig gesê.
In die nasleep van die uitspraak staan Dennis by ’n kruispad. Terwyl sy gees verpletter is, bly hy vasberade.
“Ons het geen ander keuse as om te wag vir die vonnisoplegging nie. Ek sal seker beter voel nadat hulle die vonnis gekry het wat hulle verdien, want moord was beslis hier betrokke,” het hy aangevoer.
Dennis is vasbeslote om sy dogter se nagedagtenis te eer en geregtigheid te soek, en beplan om teen die uitspraak te appelleer en elke moontlike regsuitweg te ondersoek om te verseker dat diegene wat vir sy dogter se dood verantwoordelik is, aanspreeklik gehou word.
“Ons sal appelleer,” het Dennis gesê, sy stem belaai met woede en hartseer.
“Hoewel die uitspraak ons verpletter het, is ons vasbeslote om te appelleer sodra die vonnisoplegging voltooi is. My dogter verdien geregtigheid, en ek sal nie ophou baklei totdat diegene wat verantwoordelik is, ten volle aanspreeklik gehou word nie,” het hy gesê.
Die betrokke partye sal weer vandag in die hoërhof verskyn om hul finale betoë voor vonnisoplegging te lewer.
Madisia en Mulundu bly steeds in aanhouding en sal eersdaags hul lot oor die klagte van regsverydeling en bedrog hoor wanneer Liebenberg hul vonnis sal oplê.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie