Die hoërhof in Windhoek het Vrydag uitspraak gelewer. Foto Argief
Die hoërhof in Windhoek het Vrydag uitspraak gelewer. Foto Argief

Hof beslis in guns van Oniipa-inwoner

Hof Vrydag uitspraak gelewer
Die hoërhof in Windhoek het die raad se besluit om nie die eiendom aan die inwoner te verkoop nie, tersyde gestel.
Kristien Kruger
’n Inwoner van Oniipa het Vrydag geslaag in ’n hofaansoek om eienaarskap van ’n gedeelte grond te behou wat hy beweer aan sy grootouers behoort en hy by sy ma geërf het.

Die hofsaak is in Februarie 2023 gemaak nadat die Oniipa-dorpsraad besluit het om nie die betrokke eiendom aan die inwoner, Hendrik Ndangi Jacob, te verkoop nie. Dié besluit kom nadat die raad reeds goedkeuring van die minister van landelike en stedelike ontwikkeling ontvang het.

Die hoërhof in Windhoek het bevind dat die raad nie hulle besluit kan terugtrek nie en dat Jacob die wettige okkupeerder van die grond en eienaar van die grondregte is, ten spyte van die feit dat ’n ander inwoner aangevoer het dat hy ook gebruiksreg op ’n gedeelte van die grond gehad het.

AGTERGROND

Die grond wat die onderwerp is van dié verrigtinge is kommunale grond wat Jacob glo by sy ma geërf het.

Toe Oniipa in 2015 as ’n plaaslike owerheidsgebied verklaar is, is die eienaarskap van die grond van die Oshakati-streekraad na die dorpsraad oorgedra.

Volgens sy hofstukke het Jacob in Desember 2017 ’n huurooreenkoms met die raad aangegaan vir die eiendom en in April 2021 het die raad besluit om die eiendom aan hom te verkoop indien die verkoop deur die minister goedgekeur word.

In Januarie 2022 het ’n ander individu, Nafta Nendongo, beswaar gemaak teen die verkoop van die eiendom. Hy het aangevoer dat hy in 2012 gebruiksregte toegeken is vir ’n gedeelte van die grond wat nou deel vorm van die grond wat Jacob beplan om te koop. Hy het aangevoer dat dié regte deur die Ondonga Tradisionele Owerheid aan hom gegee is.

Ten spyte hiervan het die minister in Maart 2022 die verkoop goedgekeur, maar die raad het in Desember 2022 besluit om nie die eiendom aan Jacob te verkoop nie weens die dispuut tussen Jacob en Nendongo.

Jacob het daarna die hof genader en versoek dat die dorpsraad se besluit hersien en tersyde gestel word. Hy het aangevoer dat die raad se weiering om voort te gaan met die transaksie onreëlmatig, onregverdig en teenstrydig met die minister se goedkeuring was.

UITSPRAAK

Regter Boas Usiku het in Jacob se guns beslis en bevind dat hy die grondregte as erfporsie gekry het en die tradisionele owerheid nie die gesag gehad het om die regte tot die grond aan Nendongo toe te ken nie.

“Ek is dus van mening dat die dorpsraad nie geregverdig was om sy besluit om die eiendom aan die applikant [Jacob] te verkoop, terug te trek nie,” lui Usiku se uitspraak.

Ingevolge die hofbevel word Nendongo beveel om alle nodige dokumentasie te onderteken om die grondregte aan Jacob oor te plaas. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!