• Tuisblad
  • Howe
  • Hof beslis ses setels in NV moet vervang word
Die hooggeregshof het beslis dat die kieshof se uitspraak korrek is en dat die PDM nie geregtig was om hul verkiesingslys na die verkiesing te verander nie. Foto Argief
Die hooggeregshof het beslis dat die kieshof se uitspraak korrek is en dat die PDM nie geregtig was om hul verkiesingslys na die verkiesing te verander nie. Foto Argief

Hof beslis ses setels in NV moet vervang word

PDM en ECN teken appèl aan
Die hooggeregshof het gister beslis dat die kieshof se uitspraak korrek was en dat die PDM nie geregtig was om hul kieslys ná die verkiesing te verander nie.
Kristien Kruger
Die hooggeregshof het gister die Verkiesingskommissie van Namibië (ECN) en die Popular Democratic Movement (PDM) se appèlaansoeke teen ’n kieshofuitspraak van die hand gewys.

Die uitspraak bepaal dat die beëdiging van ses lede van die Nasionale Vergadering (NV) ongeldig verklaar word en die lede word beveel om onmiddellik hul setels in die NV te ontruim.

Die hofbevel vereis dat dié ses lede onmiddellike vervang word en die nuwe lede beëdig word.

Die lede wat hul setels moet ontruim, is me. Esmeralda Esme !Aebes, mnre. Johannes Martin, Kazeongere Zeripi Tjeundo, Godfrey Kupuzo Mwilima, Timotheus Sydney Shihumbu en Pieter Mostert.

Volgens die bevel word hulle met mnr. Frans Bertolini, mee. Charmaine Tjirare, Yvette Areas, mnre. Tjekupe Maximilliant Katjimune, Raymond Reginald Diergaardt en Mike Rapuikua Venaani vervang.

AGTERGROND

Die appèlaansoeke volg nadat die PDM 'n lys van NV-kandidate aan die ECN verskaf het, wat op versoek van die ECN gewysig moes word.

Sommige van die kandidate het nie gekwalifiseer om op dié lys te wees nie aangesien hulle óf “besoldigde lede van die staatsdiens” óf “lede van die Nasionale Raad, streeksrade of plaaslike owerhede” was.

Die PDM het ’n nuwe kieslys ingedien waarop dié kandidate verwyder en vervang is deur kandidate wat kwalifiseer en dié lys is in die Staatskoerant gepubliseer.

Die uitslag van die verkiesing het getoon dat die PDM geregtig was om 16 lede in die NV aan te stel. Die PDM het na hul oorspronklike kieslys teruggekeer en toe dit duidelik word dat die PDM sy oorspronklike lys sou gebruik vir doeleindes van die beëdigingseremonie, het twee van die PDM-kandidate wat op die Staatskoerant se kieslys verskyn het (30ste en 31ste respondente) die kieshof op 'n dringende basis genader.

Die kieshof het in die guns van dié respondente beslis en die PDM en ECN het teen die uitspraak geappelleer en die hooggeregshof het gister uitspraak op dié appèlaansoeke gelewer.

“Die hof bevind dat die gevolgtrekking waartoe die kieshof gekom het – dat die PDM nie geregtig was om hul kieslys ná die verkiesing te verander nie – korrek is,” lui die uitspraak deur hoofregter Peter Shivute, adjunk-hoofregter Petrus Damaseb en waarnemende regter Theo Frank.

UITSPRAAK

Die aankondiging deur die voorsitter van die ECN, wat op 18 Maart 2020 in die Staatskoerant gepubliseer is, is tersyde gestel en die beëdiging as lede van die NV van Esmeralda Esme !Aebes, Johannes Martin, Kazeongere Zeripi Tjeundo, Godfrey Kupuzo Mwilima, Timotheus Sydney Shihumbu en Pieter Mostert, is onwettig en ongeldig verklaar.

“Die voorsitter van die Verkiesingskommissie van Namibië word hiermee gelas om ’n verklaring uit te reik dat die volgende persone as verkose lede van die NV beëdig sal word: Frans Bertolini, Charmaine Tjirare, Yvette Areas, Tjekupe Maximilliant Katjimune, Raymond Reginald Diergaardt en Mike Rapuikua Venaani,” lui die uitspraak.

“Die PDM se aanvaarding van die nominasies van die ses persone wat nie op die gepubliseerde kieslys was nie, was strydig met die wet. Die PDM het hulle genomineer en in grondwetlike terme is dit wat in die vooruitsig gestel is. Die PDM is dus nie benadeel ten opsigte van die aantal setels wat hy in die NV kon beklee nie. Die wet verbied nominasie op so ’n laat stadium en die nominasies was dus ongeldig,” lui die uitspraak.

Volgens die hofbevel is die griffier van die hooggeregshof gelas om ’n afskrif van die uitspraak aan die Speaker te beteken.

Geen bevel is ten opsigte van koste gemaak nie en die saak is van die rol geskrap. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!