Annalise Calabrese was Vrydag baie verlig na die hoërhof bevel dat die Windhoek munisipaliteit watertoevoer tot haar huis moet herstel.
Foto Augetto Graig
Annalise Calabrese was Vrydag baie verlig na die hoërhof bevel dat die Windhoek munisipaliteit watertoevoer tot haar huis moet herstel. Foto Augetto Graig

Hof beveel CoW moet watertoevoer herstel

Windhoek-inwoner wen dringende aansoek
Die toevoer na sowat 245 rekeninge word daagliks afgesny soos N$1,1 miljard se skuld ophoop.
Augetto Graig
Regter Orben Sibeya het Vrydag die Windhoek-munisipaliteit beveel om Annalise Calabrese se watertoevoer na haar huis in Klein Windhoek onmiddellik te herstel.

Luidens die hoërhofbevel moet Stad Windhoek ook Calabrese se regskostes vir haar prokureurs Garth Joseph en advokaat Riette Hite betaal.

Die munisipaliteit het ’n astrononiese verhoging in uitstaande waterskuld van Calabrese geëis, wat volgens haar beëdigde verklaring tussen Maart en April vanjaar met meer as ’n miljoen dollar toegeneem het.

Volgens haar verklaring het sy die oggend van 29 April vanjaar opgestaan ​​en die kombuiskrane oopgedraai, net om te besef daar is nie water nie.

“Ek het ander krane in die huis oopgedraai en daar was ook nie water nie. Ek het na die hoofwaterklep gegaan wat die watertoevoer na die eiendom beheer, maar kon niks vind wat foutief of stukkend is nie.

“Ek het die respondent genader om die oorsaak van die toevoeronderbreking uit te vind. By navraag is ek na die rekeningafdeling verwys en van ’n rekening vir Stad Windhoek (CoW) voorsien. Die rekening was agterstallig,” luidens haar verklaring.

Volgens Calabrese het sy die rekening bevraagteken, maar tog ’n gedeelte van die rekening betaal.

Eers daarna het sy nog ’n staat van die munisipaliteit ontvang, waarin die miljoen dollar se bykomende skuld aangedui is.

“By verdere navraag oor hierdie buitensporige bedrag was die enigste reaksie van die respondent dat hulle die kwessie ondersoek.

“Na vele onsuksesvolle pogings om die dispuut oor die skuld op te klaar en my watertoevoer te herstel, het ek my regspraktisyn gebel,” brei sy uit.

Hite het ná die hof se uitspraak aan Calabrese gesê: “Jy is nie die enigste een nie”, en dat “dit oral in Windhoek, in Namibië, gebeur, maar veral in Windhoek, waar die munisipaliteit net water afsny.

Sy het ook gesê al is daar “issues” wat jy probeer om onder die munisipaliteit se aandag te bring, “hulle net nie na jou toe terugkom nie”.

“Dit is dus hoekom ons vandag op ’n dringende basis hof toe gekom het, omdat hulle jou water afgesny het. Dus het jy nie water nie, en ons kan nie wag dat die hof oor drie maande die bevel gee om jou watertoevoer te herstel nie.

“So dis hoekom ons dadelik hof toe gekom het, ons het vir die hof gesê hoekom dit dringend is en ons het die hof gevra, sit die water weer aan.”

Hite brei uit dat die remedie wat gebruik is die “mandaat van spoliasie” was, wat handel oor die besit van iets wat skielik weggeneem word en die hof bemagtig om daardie iets te beskerm.

“Water is ook iets wat jy kan besit,” sê die advokaat.

“Baie dankie, dit is goeie nuus,” het Calabrese geantwoord.

MUNISIPALITEIT SE REAKSIE

Die woordvoerder van die Windhoekse munisipaliteit, Lydia Amutenya, het bevestig dat die hoofstad die hofbevel sal nakom.

“Ons sal egter voortgaan met die ondersoek en die uitslag sal die pad vorentoe oor hierdie aangeleentheid bepaal,” voeg sy by.

Stad Windhoek sny daagliks ongeveer 245 rekeninge se watertoevoer af, maar tussen 70% en 80% van hierdie rekeninge se toevoer word ook daagliks herstel, insluitend rekeninge waarvoor toevoer ’n maand of twee afgesny is of enige tyd in die verlede, Amutenya brei uit.

Altesaam het die totale skuld aan die munisipaliteit teen 3 Junie 2024 sowat N$1,1 miljard beloop, sê sy.

Verlede week het die aktivis Michael Amushelelo die kwessie van watertoevoer wat afgesny is op sosiale media uitgelig en gesê die meerderheid van Katutura en arm woonbuurte se inwoners ly daaronder.

Hy het spesifiek gekla oor die Chinese sakevrou Stina Wu wie se Marigold Hotel volgens hom meer as N$1,5 miljoen aan die munisipaliteit skuld sonder dat watertoevoer na die hotel afgesny word.

Amutenya het geantwoord dat watertoevoer na die hotel wel opgeskort is weens skuld van sowat N$500 000, maar nadat N$256 000 betaal is, is die toevoer herstel.

Die uitstaande skuld van N$299 000 moet teen eerskomende Vrydag vereffen word, voeg sy by.

“Ons erken en verstaan ​​die beduidende frustrasies binne die gemeenskap as water afgesny word. Stad Windhoek is daartoe verbind om alle kliënte regverdig en konsekwent binne gevestigde riglyne te behandel,” het sy toe bygevoeg.

Calabrese se prokureur het gistermiddag bevestig dat haar watertoevoer herstel is.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!