Die hooggereshof het Dinsdag die appèlaansoek deur die regering en die NCIS toegestaan. Foto argief
Die hooggereshof het Dinsdag die appèlaansoek deur die regering en die NCIS toegestaan. Foto argief

Hof beveel NCIS-beampte se afdanking

Regering slaag in sy appèlaansoek
Die hooggeregshof het Dinsdag uitspraak gelewer en bevind dat 'n bevel van die hoërhof geen wettige grondslag gehad het nie.
Kristien Kruger
Die regering het in sy uitdaging teen ’n hoërhofuitspraak geslaag, wat die heraanstelling van 'n hoofopleidingsbeampte van die Namibiese Sentrale Intelligensiedienste (NCIS) beveel het.

Die hoërhof het Immanuel Kaulinawa Shivute se afdanking uit die NCIS in 2018 tersyde gestel en beveel dat hy in die pos wat hy voorheen beklee het, heraangestel moet word.

Ingevolge ’n uitspraak van die hooggeregshof wat Dinsdag gelewer is, is die beslissing van die hoërhof geskrap aangesien die wet nie voorsiening maak vir Shivute se heraanstelling nie.

TWEE SALARISSE

Shivute het twee salarisse verdien – van sy vorige werk en sy pos by die NCIS. Hy het versuim om dit aan te meld en het die geld gebruik.

Shivute was voorheen in diens van die ministerie van onderwys en ten spyte daarvan dat hy bedank en by die NCIS aangesluit het, het die ministerie voortgegaan om sy salaris vir ’n tydperk van 30 maande in sy persoonlike bankrekening in te betaal. Die bedrag het meer as N$798 000 beloop.

Die Teenkorrupsiekommissie van Namibië (ACC) het die saak ondersoek en strafregtelike aanklagte is teen Shivute aanhangig gemaak, maar dit is in Julie 2018 teruggetrek.

Die NCIS het hom wel van wangedrag aangekla vir die oortreding van die NCIS se regulasies teen korrupte gedrag.

DISSIPLINÊRE VERHOOR

Shivute het glo tydens sy dissiplinêre verhoor erken dat hy ’n salaris van die ministerie ontvang het ondanks die feit dat hy by die NCIS aangestel is.

Hy het verder erken dat hy tydens sy oriëntering ingelig is van sy verpligting om by die NCIS se menslikehulpbronafdeling aan te meld indien hy ’n salaris van ’n vorige werkgewer ontvang. Hy het erken dat hy nie die kwessie aangemeld het nie. Hy is aan die einde van sy dissiplinêre verhoor skuldig bevind.

“Die paneel het bevind dat hy op ’n skandelike, onbehoorlike of onvanpaste wyse opgetree het en dat dit nadelig is vir die regering en die NCIS.

“Die paneel het verder bevind dat daar elemente van oneerlikheid in die respondent [Shivute] se optrede is en dat die vertrouensverhouding as gevolg daarvan verbrokkel het,” lui die hofuitspraak.

Die paneel het aanbeveel dat Shivute by die NCIS afgedank word. Sy dienste is op 1 Mei 2018 beëindig.

Shivute het teen die paneel se besluit geappelleer, maar die appèl is van die hand gewys.

HOËRHOF EN APPÈL

Shivute het daarna die hoërhof genader en versoek dat die hof beveel dat hy in die pos wat hy voorheen beklee het, heraangestel word. Sy aansoek was suksesvol.

Daarna het die regering en die NCIS die hooggeregshof genader om die hoërhof se uitspraak uit te daag en dit is in hierdie appèlaansoek wat daar Dinsdag uitspraak gelewer is. Ingevolge dié uitspraak is die hoërhof se beslissing tersyde gestel.

“Daar is geen grondslag in die wet om die heraanstelling van die respondent in sy posisie te beveel nie.

“Die appèl teen die bevele wat deur die hoërhof gemaak is, slaag dus,” lui die hooggeregshofuitspraak.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!