• Tuisblad
  • Howe
  • Hof kniehalter Cran se planne vir nuwe kantore
Foto argief
Foto argief

Hof kniehalter Cran se planne vir nuwe kantore

Tenderproses word gestaak
Hoewel die kennisgewing van toekenning vir die tender per e-pos aan maatskappye gestuur is, het een maatskappy s'n in sy rommelposmandjie beland.
Kristien Kruger
Die beplanning vir die konstruksie van die Regulerende Owerheid vir Kommunikasie in Namibië (Cran) se nuwe hoofkantoor in Windhoek is ingevolge ’n hofbevel gestaak.

Dit volg nadat die hoërhof in Windhoek Dinsdag uitspraak gelewer het in ’n dringende aansoek met betrekking tot onreëlmatighede in die tenderproses.

Cran het in Julie verlede jaar maatskappye uitgenooi om voorleggings in te dien vir “Konsultasiedienste vir argitektoniese dienste vir beplanning, ingenieurswese, ontwerp en kosteberamings”.

Ná ’n evalueringsproses is die tender in Oktober aan Bartsch Architecton Architects toegeken.

Die hoërhof het die implementering van hierdie tendertoekenning gestop nadat een van die ander tenderaars, Marley Tjitjo Architects Inc, ’n dringende aansoek gebring het. In dié aansoek is ’n tussentydse interdik versoek en word geëis dat die tenderproses gestaak moet word hangende ’n hersieningsaansoek wat die maatskappy ook by die hof ingedien het.

Die aansoek is op 19 Desember aangehoor en regter Nate Ndauendapo het Dinsdag in Marley Tjitjo Architects Inc se guns beslis.

Ndauendapo het verder beveel dat Cran Marley Tjitjo Architects Inc se regskoste moet betaal.



‘GEEN KENNISGEWING ONTVANG’

Marley Tjitjo Architects Inc het die dringende aansoek gebring nadat dit glo nie die kennisgewing van toekenning vir die tender ontvang het nie.

Teen die tyd dat die maatskappy glo van die toekenning bewus geword het – in November – het die tydperk van sewe dae reeds verstryk waarin hy ’n oorwegingsaansoek kon indien. Die oorwegingsaansoek is dus van die hand gewys.

Die besturende direkteur, Marley Tjitjo, meen Cran se versuim om die kennisgewing van toekenning aan sy maatskappy te verskaf, het hom sy reg ontneem om ’n heroorwegingsaansoek in te dien.

Cran het egter volgehou dat hy die kennisgewing van toekenning per e-pos aan alle onsuksesvolle kandidate gestuur het en kon selfs in die hof bewys dat die e-pos aan Marley Tjitjo Architects Inc gestuur is.

Nadat ’n inligtingstegnologietegnikus Marley Tjitjo se toestelle nagegaan het, is dit vasgestel dat die e-pos in sy rommelposmandjie (spam folder) beland het en hy dit nooit gesien het nie.

Cran het tydens die verhoor aangevoer dat hy nie verantwoordelik gehou kan word vir die feit dat die e-pos in die rommelposmandjie beland het nie.



UITSPRAAK

In Ndauendapo se uitspraak het hy die kwessie van e-poskorrespondensie en bewys van betekening (proof of service) aangespreek.

Cran het aangevoer dat die minister van finansies in September 2020 ’n opdrag uitgereik het dat diensdokumente per e-pos aangestuur moet word.

“Dit blyk uit die opdrag daar is tydens Covid-19 besluit dat diensdokumente by wyse van ’n e-pos gestuur kan word om die verspreiding van Covid-19 te verminder, maar die opdrag het tekort geskiet in terme van die metode van bewys.”

Ndauendapo het verder in sy uitspraak bevind dat dit Cran se verantwoordelikheid was om te verseker dat Marley Tjitjo Architects Inc die kennisgewing ontvang het.

“Die onus was op die tweede respondent [Cran] om te bewys dat hy die kennisgewing van toekenning op die applikant [Marley Tjitjo Architects Inc] ingevolge die wet gelewer het,” lui Ndauendapo se uitspraak.

Hy het verder bevind dat Cran Marley Tjitjo Architects Inc se heroorwegingsaansoek moes aanvaar het omdat dit binne die tydperk van sewe dae sedert hy van die toekenning bewus geword het, ingedien is.

Cran se versuim om dit te doen, meen hy, het neergekom op ’n skending van Marley Tjitjo Architects Inc se reg om gehoor te word en is in stryd met artikel 18 van die Grondwet.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 29° Rundu: 19° | 32° Eenhana: 22° | 35° Oshakati: 26° | 35° Ruacana: 20° | 36° Tsumeb: 21° | 34° Otjiwarongo: 19° | 33° Omaruru: 18° | 37° Windhoek: 20° | 33° Gobabis: 22° | 32° Henties Bay: 16° | 20° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 21° Rehoboth: 20° | 34° Mariental: 21° | 37° Keetmanshoop: 18° | 37° Aranos: 23° | 36° Lüderitz: 14° | 30° Ariamsvlei: 19° | 37° Oranjemund: 14° | 24° Luanda: 26° | 27° Gaborone: 22° | 34° Lubumbashi: 17° | 20° Mbabane: 15° | 27° Maseru: 19° | 33° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 18° | 21° Maputo: 21° | 32° Windhoek: 20° | 33° Cape Town: 19° | 23° Durban: 22° | 26° Johannesburg: 20° | 31° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 17° | 20° Harare: 17° | 23° #REF! #REF!