Hof soek antwoorde

Regter kan saak van rol skrap
In 'n saak wat die Grootfonteinse munisipaliteit teen straatverkopers aanhangig gemaak het, beweer hulle dat die verkopers in November 2020 die gebied sonder toestemming beset het.
Kristien Kruger
Kristien Kruger

Die straatverkopers in Grootfontein sal dalk nooit met ’n hofbevel verwyder kan word nie.

Die munisipaliteit van Grootfontein het in Februarie ’n saak teen die informele handelaars aanhangig gemaak in ’n poging om ’n hofbevel te kry wat die handelaars beveel om ses van dié dorp se strate te ontruim.

Intussen het die burgemeester, me. Talitha Garises, in April die straatverkopers toestemming gegee om voort te gaan om hul produkte te verkoop, ten spyte van ’n uitsettingsbevel wat die munisipaliteit uitgereik het.

Die dorp se informele mark is glo te klein en kan nie al die handelaars huisves nie.

HOFBEVEL

Die hoërhof het op 11 September ’n kennisgewing uitgereik wat die partye verplig het om Donderdag in die hof te verskyn en aan regter Orben Sibeya te verduidelik waarom die saak die afgelope ses maande stilgestaan het.

“Partye moet redes gee waarom die saak nie van die rol geskrap moet word en nooit weer aanhangig gemaak kan word nie,” lui die kennisgewing.

Indien Sibeya besluit om die saak van die rol te skrap, kan die munisipaliteit nie weer ’n saak met dieselfde eise aanhangig maak nie.

Die partye het nie vir die verhoor opgedaag nie, maar die saak is nie van die rol geskrap nie en is net tot 22 September uitgestel vir Sibeya om die partye aan te hoor.

EISE

In die saak wat die munisipaliteit teen die verkopers aanhangig gemaak het, beweer hulle dat die verkopers in November 2020 die perseel sonder hulle toestemming beset het.

“As die plaaslike owerheid het ons ’n plig om die ordelike opstel, wettige besetting en wettige handel in hierdie gebied te verseker,” lui die munisipaliteit se eisbesonderhede.

Die eisbesonderhede identifiseer ses strate waar die verkopers ontruim moet word, naamlik Hage Geingob-, Hidipo Hamutenya-, Okavango- en Toivo ya Toivostraat, asook Sam Nujomarylaan en die kruising van Sam Nujoma en die B1-hoofweg.

Die gemeenskapsleier, mnr. Morits Gaingob, het in April gesê die verkopers is nie gekant daarteen om geskuif te word van waar hulle in Hage Geingobstraat handel dryf nie, maar dat ’n alternatiewe perseel aan hulle gebied moet word.

“Ons het ’n behoefte aan nuwe, relevante markte op Grootfontein.”



– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 32° Rundu: 19° | 36° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 23° | 36° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 33° Omaruru: 20° | 35° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 14° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 23° | 34° Mariental: 20° | 36° Keetmanshoop: 13° | 32° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 23° Ariamsvlei: 14° | 32° Oranjemund: 14° | 20° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 18° | 28° Mbabane: 18° | 35° Maseru: 16° | 30° Antananarivo: 17° | 28° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 22° | 38° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 19° Durban: 21° | 27° Johannesburg: 19° | 32° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 19° | 32° Harare: 19° | 30° #REF! #REF!