Adv. Gerson Narib verdedig die minister van myne en energie Tom Alweendo teen Xinfeng se aansoek om sy herroeping van hul mynboulisensie, terwyl adv. Vincent Maleka aandring die Chinese mynbouer het nooit bedrog gepleeg nie. Agter Maleka is Thai Scott en Nambili Mhata. Foto Augetto Graig
Adv. Gerson Narib verdedig die minister van myne en energie Tom Alweendo teen Xinfeng se aansoek om sy herroeping van hul mynboulisensie, terwyl adv. Vincent Maleka aandring die Chinese mynbouer het nooit bedrog gepleeg nie. Agter Maleka is Thai Scott en Nambili Mhata. Foto Augetto Graig

Hofbesluit oor Xinfeng volgende week

Litium-stormloop vat kortpad
Die Chinese mynbouer ontken bedrog in sy aansoek om 'n mynlisensie.
Augetto Graig
Sy dag in die hof teen die minister van myne en energie het gister vir die Chinese litiummynbougroep Xinfeng Investments aangebreek.

Regter Ramon Maasdorp het hul dringende aansoek teen minister Tom Alweendo se herroeping van mynboulisensie ML243 aangehoor. Gistermiddag het Maasdorp sy beslissing tot Vrydag 2 Junie weerhou.

Alweendo het laas maand per brief vir Xinfeng laat week dat hulle mynboubedrywighede by die Okombahe oopgroefmyn buite Omaruru op 31 Mei moet staak.

Namens die staat het adv. Gerson Narib die regter verseker dat die ministerie nie voor die beslissing vir Xinfeng van die mynperseel sal uitsit nie.

Namens Xinfeng het adv. Vincent Maleka, met hulp van sy junior Thai Scott en in opdrag van die onderneming se Namibiese prokureur Nambili Mhata, opgetree.

Maleka het sy motivering vir die aansoek begin met ’n uiteensetting van die tydlyn van Alweendo se kommunikasie aan Xinfeng oor die moontlikheid van die opskorting van hul mynboulisensie, wat met ’n brief op 26 Oktober 2022 begin het.

Hierin het die minister gekla dat Xinfeng nie by die goedgekeurde mynbouprogram hou nie, en vir die eerste keer gedreig om ML243 te kanselleer.

In dié brief, asook in die opvolgbrief van 1 November, waarin die minister aangedring het Xinfeng moet teen 4 November ophou grootmaat litiumerts uitvoer, hanteer die minister die lisensie as geldig, lig Maleka uit.

Intussen het Xinfeng op 3 November aansoek gedoen vir goedkeuring van ’n veranderde werkprogram wat hulle sou toelaat om aan te hou met ertsuitvoere. Die uitvoere sou bedryfskoste dek, navorsing in China vir ’n litium verwerkingsaanleg laat voortgaan, en bydra om vir die aanleg te kan betaal.

Die aansoek is nogtans nie goedgekeur nie, wat glo die opskorting van bedrywighede op ML243 in Desember veroorsaak het. Dit was ook dié aansoek wat glo die minister aangespoor het om die aanvanklike mynboulisensie-aansoek te hersien, waartydens bevind is dat die aansoek plagiaat, onwaarhede en uiteindelik bedrog bevat het.

Op dié grondslag het Alweendo op 28 April geskryf die lisensie word herroep, aangesien dit van die begin af nie geldig toegeken is nie.

Maleka ontken dat daar ooit bedrog was en dring aan dat die mineralewet nie die minister die reg gee om sy toekenning van die lisensie ter syde te stel nie, tensy ’n hof so beslis. Intussen is die kwessie vir geregtelike hersiening verwys.

Adv. Maleka sê verder Xinfeng het reeds N$600 miljoen in die myn belê, bied werk aan sowat 290 werknemers en dat staking van bedrywighede ook ’n omgewingsrisiko inhou.

Hy noem ook dat die verwerkingsaanleg se oprigting drie jaar sou neem, en dat Xinfeng ’n ontsoutingsaanleg voorstel om water hiervoor te voorsien.

Narib het op sy beurt die verantwoordelikheid beklemtoon wat die mineralewet op die minister plaas om hulpbronne te bewaar. Hy sê Xinfeng het nooit die nodige eksplorasiewerk gedoen nie, aangedui deur verskille in tegniese verslae wat ingedien is. Hy vra dat die regter die bedrog bevestig en stel voor die geregtelike hersieningsproses versnel moet word.

Maasdorp het aan Maleka gevra hoe Xinfeng nou erts wil myn en uitvoer terwyl hulle aanvanklik eers die myn sou bou, dan erts ontgin en dan die litium plaaslik sou verwerk. “Dis nou iets heeltemal anders,” het die regter opgemerk.

“Julle verduideliking word nie deur die feite ondersteun nie. Selfs die kwessie van die ontsoutingsaanleg skep ’n groot probleem, want waar kry mens 500 ton vars water per dag in hierdie droë land? Vir my lyk dit soos twee verskillende operasies,” het hy gesê.

Intussen het Xinfeng se ander operasie buite Uis onlangs die nuus gehaal, nadat inwoners betoog en ’n parlementêre komitee ondersoek gaan instel het.

Die waarnemende uitvoerende direkteur van die ministerie, Bryan Eiseb, was by die hof en sê hy weet nie of Xinfeng se Okombahe-werknemers nou daar werk nie. Hy sê die ministerie sal ondersoek doen om vas te stel hoe ’n oopgroefmyn op klein kleims gebou word.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!