• Tuisblad
  • Howe
  • Hofgeding oor wettiging van dagga duur voort

Hofgeding oor wettiging van dagga duur voort

Polisie lê beslag op reuse-daggavonds
Die organisasies GUN en RUF daag die grondwetlikheid van Namibië se verbod op daggabesit uit.
Augetto Graig
Die hofstryd wat die grondwetlikheid van die strafregtelike vervolging van daggaverbruikers uitdaag, duur steeds voort.

Dit terwyl die Namibiese polisie Vrydag gespog het met ’n reuse-dwelmvonds van 113 470 gram dagga ter waarde van N$5,5 miljoen waarop verlede Maandag beslag gelê is, en die inhegtenisneming van die 34-jarige Gobtlieb Sem.

Die Ganja Users of Namibia (GUN) en die Rastafai United Front (RUF) se hofstryd om dagga in Namibië te dekriminaliseer, draai weer in die hof. Brian Jaftha, die president van beide organisasies, sê egter die jongste hofbevel is ’n positiewe verwikkeling.

Regter Eileen Rakow het op Dinsdag 12 September vanjaar opdrag gegee dat die eisers – Jaftha en GUN se sekretaris-generaal, Borro Ndungula – teen 11 November hul voorleggings en bewyse met die staat moet uitruil, teen 27 November getuie- en kennerverklarings moet deel en aan bemiddeling moet deelneem – waar die prokureur Kadhila Amoomo die daggavoorstanders sal verteenwoordig en Jabulani Ncube die staat.

Rakow het gesê partye moet op 30 November terugvoering oor die bemiddeling gee, en dat die saak op 5 Desember sal voortgaan.

Jaftha en Ndungula het die saak op 19 August 2021 aanhangig gemaak. Hulle eise het ingesluit dat huidige wetgewing teen die besit en verbruik van dagga deur volwassenes ongrondwetlik is, van die skedules vir verbode dwelms afgeskaf moet word, Namibiërs vrygespreek moet word wat vir dagga-oortredings in die tronk sit, en dat dagga-verwante oortredings van kriminele rekords geskrap moet word.

Dit nadat twee dagga-verwante oortredings in 2019 teen Jaftha aanhangig gemaak is, en agt teen Ndungula sedert 2011.

Hierdie klagte is intussen met die huidige hoërhofsaak saamgesmelt.

“Die verbod [op die besit van dagga] is irrasioneel en kwaadwillig en teenstrydig met die fundamentele beginsels van [die] reg en wettigheid,” lui die aanvanklike klagskrif soos deur Amoomo onderteken is.

Sedertdien is die aanklaer-generaal, Nampol se inspekteur-generaal, die minister van justisie, die minister van gesondheid en maatskaplike dienste en die regering ook in die saak gedagvaar.

Die regering, die minister van justisie, die inspekteur-generaal en die aanklaer-generaal staan die eise teen, terwyl die gesondheidsminister in ’n beëdigde verklaring geweier het om verdere inligting beskikbaar te stel.

In die verdediging se pleitverduideliking skryf Ncube dat dagga mediese nagevolge kan hê, geestesgesondheid kan benadeel, en tot die afhanklikheid daarvan kan lei asook tot die verbruik van ander onwettige dwelms.

Verder belemmer dagga verbruikers se bestuursvermoë en kan dit negatiewe gevolge vir die samelewing inhou, het die staat volgehou.

Alhoewel die verbod op dagga wel Rastafariërs se beoefening van hul geloof beperk, is dit ingevolge die Grondwet toelaatbaar, volgens die staat.

Verder word die onwettige handel in dagga uitgelig, saam met Namibië se verpligtinge onder internasionale wette en ooreenkomste.

GUN- en RUF-lede sê egter: “Die verbod het sy bestaan te danke aan verouderde, ongegronde en valse oortuigings oor die skadelikheid van dagga en die gewoontevorming daarvan, gedeeltelik gemotiveer deur ’n nou ontbinde rassistiese politieke agenda,” luidens Jaftha se verklaring.

Ncube het voorgestel dat die Kommissie vir Regshervorming en Ontwikkeling moontlik die spesifieke wet op daggabesit kan hersien. Die kommissie het egter nooit op die kwessie gereageer nie.

Jaftha sê bemiddeling bied die geleentheid vir die partye om ’n oplossing te vind. Daarsonder sal die hofsaak voortgaan en volgens hom het hulle ’n waterdigte saak om te kan wen.

“Hierdie saak is reeds gewonne. Sonder dat hulle vir ons moet sê, weet ons klaar wat oraloor die wêreld gebeur. Wat die trant wêreldwyd is.

“Ons en Suid-Afrika gebruik dieselfde wet, dus as dit in Suid-Afrika teenstrydig met hulle Grondwet is, hoef jy nie ’n genie te wees om te sien dat dit ook ondemokraties en as ’n skending van menseregte in Namibië verklaar sal word nie,” het hy gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 31° Rundu: 19° | 36° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 16° | 34° Tsumeb: 20° | 33° Otjiwarongo: 14° | 30° Omaruru: 15° | 30° Windhoek: 16° | 29° Gobabis: 20° | 35° Henties Bay: 17° | 20° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 20° Rehoboth: 18° | 33° Mariental: 20° | 35° Keetmanshoop: 17° | 34° Aranos: 20° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 16° | 34° Oranjemund: 13° | 23° Luanda: 26° | 28° Gaborone: 21° | 28° Lubumbashi: 17° | 23° Mbabane: 15° | 18° Maseru: 12° | 29° Antananarivo: 18° | 26° Lilongwe: 20° | 24° Maputo: 19° | 27° Windhoek: 16° | 29° Cape Town: 16° | 22° Durban: 17° | 23° Johannesburg: 15° | 25° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 18° | 29° Harare: 18° | 24° #REF! #REF!