Hoofregter erken selfdegeslag-eggenote

Iréne-Mari van der Walt
Selfdegeslag-paartjies het gister van blydskap gejubel ná hoofregter Peter Shivute sy uitspraak in die saak van Anita Seiler-Lilles, ’n Duitse burger, en Daniel Digashu, ’n Suid-Afrikaner, in die hooggeregshof gelewer het.

Die regter het beslis dat dié twee buitelandse lewensmaats in selfdegeslag-huwelike met twee Namibiërs wat in die buiteland voltrek is, voortaan ook as hul eggenote in Namibië erken sal word.

“Ná sewe jaar se gesukkel weet ons dat Anita nou Namibië haar huis kan noem. Ons het nie net vir ons gewen nie, maar vir ander lesbiërs en gays ook,” het Anette Seiler, Seiler-Lilles se Namibiese eggenoot, kort ná die uitspraak aan Republikein gesê.

Sy sê haar gesin kan vir die eerste keer in jare ’n sug van verligting gee.

“Ons hoef ons nie meer oor volgende stappe te bekommer soos ons gedurende die afgelope sewe jaar gedoen het nie. Die stryd is verby. Ons kan nou met ons lewens aangaan met die wete dat ons in Namibië kan bly,” het sy gesê.

Seiler-Lilles en Digashu het beide vir jare gesukkel om verblyfreg in Namibië te verkry ten spyte daarvan dat hulle in die buiteland met Namibiese burgers getroud is. Hul huwelike is voorheen nie in Namibië erken nie aangesien die regering nie selfdegeslag-huwelike erken nie.

Seiler-Lilles is met Seiler getroud en Digashu met die Namibiër Johann Potgieter. Digashu en Potgieter is ook die ouers van ’n aangenome 14-jarige seun.

In die uitspraak wat deur vier regters van die hooggeregshof onderteken is, word die ministerie van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit beveel om die huwelike van beide die Digashu- en Seiler-paartjie te erken, asook om beide Seiler-Lilles en Digashu as wettige eggenote te erken.

Die vier regters is Shivute, adjunkhoofregter Petrus Damaseb, en appèlregters Dave Smuts en Elton Hoff.

Digashu sê hy moes die afgelope ses jaar voortdurend sy besoekersvisa hernu om wettiglik by sy gesin in Namibië te kon bly. Hy sal voortaan dieselfde regte geniet as ’n buitelandse eggenoot in ’n heteroseksuele huwelik.

“Ek is baie verlig en verheug oor die moontlikhede vir ander selfdegeslag-paartjies, veral die Namibiërs,” het Digashu gesê.

“Ons kan nou as ’n gesin reis sonder vrees en die slegte behandeling by grensposte. Hierdie uitspraak gee ons die vryheid om dinge te doen wat deur ’n besoekersvisa beperk word. Ek kon onder meer nie ’n inkomste verdien nie,” het hy gesê.

‘’N WEN VIR LGBTQIA-MENSE’

“Vir die eerste keer in die geskiedenis as gay Namibiërs word ons huwelike, ons gesinne en die tuistes wat ons in Namibië bou, erken. Hulle word gesien as ’n toevoeging tot Namibië,” het die stigter van Drag Night Namibia en LGBTQIA-aktivis, Rodelio Lewis, gesê.

“Ek dink nie enigiemand kan hierdie oomblik in woorde vasvang nie, dit is so surrealisties. My brein kan steeds nie begryp ’n regter het vandag gesê dat hy ons erken nie. Dit laat daardie innerlike sewejarige wat so deurmekaar gevoel het so welkom voel,” het ’n emosionele Lewis gesê.

Volgens Lewis is die uitspraak ’n simbolieke oorwinning vir die LGBTQIA-gemeenskap in Namibië.

“Ek dink elke gay Namibiër is verheug. Ons het uiteindelik ’n plek aan die tafel wat nie gehuur is nie, maar wat vir ons gegee is omdat ons dit verdien en dit ons reg is.”

Phillip Lühl, ’n Namibiër in ’n selfdegeslag-verhouding met ’n Mexikaanse burger, Guillermo Delgado, glo dat die uitspraak ’n regspresedent skep wat sy huwelik met Delgado erken. Dié paartjie is in Suid-Afrika getroud en het sedertdien verskeie hofsake aanhangig gemaak rakende die verblyfreg van hul seun, Yona (3), en hul tweelingdogters, Paula en Maya (2).

KRITIEK

“Al wat ek kan sê, is dit moet daar wees. Ons kan nie almal gelukkig maak nie. Die rede hoekom mense voel soos hulle voel, is geldig vir hulle en hoe ons voel is geldig vir ons. Die probleem kom wanneer jy besluit jou mening is meer geldig as ander s’n,” het Lewis op kritiek oor die uitspraak in die sosiale media gereageer.

Lewis glo almal is geregtig op hul eie menings, maar hou steeds vol dat lede van die LGBTQIA-gemeenskap in Namibië sekere regte verdien.

“As enige persoon vanuit die uiterste geloof sou sê dat gay mense nie ’n reg het nie, praat hulle uit hul verstandhouding van ’n ander storie. Ek glo ons moet nou verseker dat enige Namibiër nou gehoor kan word, of hulle gay, trans(gender) of cis is,” het hy gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 21° | 37° Rundu: 21° | 32° Eenhana: 21° | 26° Oshakati: 21° | 29° Ruacana: 21° | 31° Tsumeb: 19° | 24° Otjiwarongo: 19° | 25° Omaruru: 21° | 32° Windhoek: 18° | 30° Gobabis: 20° | 29° Henties Bay: 17° | 22° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 20° Rehoboth: 21° | 33° Mariental: 23° | 35° Keetmanshoop: 25° | 37° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 16° | 26° Ariamsvlei: 24° | 40° Oranjemund: 17° | 22° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 25° Lubumbashi: 16° | 32° Mbabane: 18° | 29° Maseru: 16° | 29° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 23° | 36° Windhoek: 18° | 30° Cape Town: 18° | 23° Durban: 21° | 26° Johannesburg: 16° | 18° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 21° | 35° Harare: 20° | 32° #REF! #REF!