Hoogste hof sê Menzies moet uit

Kristien Kruger
Die maatskappy wat tot hede die grondhanteringsdienste by die Internasionale Lughawe Hosea Kutako (HKIA) hanteer het, Menzies Aviation Namibia, se appèlaansoek teen die Namibië Lughawensmaatskappy (NAC) het Vrydag in die hooggeregshof gefaal.

Dié appel was teen die NAC se versoek dat Menzies die perseel moet ontruim sodat Paragon Investments sy dienste kan oorneem.

“Die oppergesag van die reg eis dat Menzies se onwettige besetting van die perseel tot 'n einde moet kom,” het regter Theo Frank in sy uitspraak gesê.

Dit is wel nie die einde van Menzies en die NAC se regstryd nie. Menzies het steeds ’n hangende hersiengsaansoek in die hoërhof wat die geldigheid van die tenderproses uitdaag.

“Die wettigheid van die toekenning van die bod moet in die hangende hersieningsaansoek in die hoërhof beslis word,” lui Frank se uitspraak verder.

Vir tyd en wyl sal Paragon egter, ingevolge die hofuitspraak, die dienste by HKIA kan oorneem.

“Paragon is, ten spyte van die hangende hersieningsaansoek rakende die tenderproses, bereid om te begin met die diensooreenkoms wat aan hom toegeken is. Hy is bereid om die risiko te loop dat die die hof die ooreenkoms tersyde kan stel,” het Frank in sy uitspraak gestel.

Hy het voorts gesê Menzies het, vanweë die noodsaaklikheid van die grondhanteringsdienste, in wese die NAC afgepers om intussen aan te hou om van sy dienste gebruik te maak.

NAC het in 'n verklaring aan hul belangegroepe gesê Menzies moet teen vandag die perseel ontruim sodat Paragon môre die grondhanteringsdienste kan oorneem.

AGTERGROND

Menzies en die NAC het in 2014 ’n skriftelike ooreenkoms aangegaan vir die lewering van grondhanteringsdienste by die lughawe. Dit was aanvanklik ’n vyfjaarkontrak en sou in Desember 2021 verval, maar is hernu vir ’n tydperk van ses maande. ’n Tenderproses vir dié dienste by HKIA is intussen van stapel gestuur en beide Menzies en Paragon was tenderaars. Menzies is egter gediskwalifiseer oor beweerde ongerymdhede in sy tenderdokument en omdat sy registrasiedokumente glo nie ten volle gesertifiseer was nie. Menzies het daarna ’n hersieningsaansoek by die verkrygingsraad se hersieningspaneel ingedien wat in Februarie 2022 van die hand gewys is. Menzies het ’n hersieningsaansoek teen die NAC by die hoërhof ingedien waarin hy die geldigheid van die tenderproses uitgedaag het.

Menzies het verder geweier om die perseel te ontruim toe sy kontrak verstryk het. Die NAC het op 27 Mei 2022 ’n dringende hoërhofaansoek ingedien vir ’n hofbevel wat Menzies sou verplig om sy dienste by HKIA te staak en die perseel te ontruim. Menzies het die aansoek teengestaan, maar die hoërhof het in NAC se guns beslis. Daarna het Menzies die appèl by die hooggeregshof aanhangig gemaak wat Vrydag van die hand gewys is.

“Menzies het geen reg gehad om op die HKIA-perseel te bly en die grondhanteringsdienste te bly lewer ná die verstryking van die kontrak nie.”

UITDAGING VAN TENDERPROSES

In Menzies se hersieningsaansoek wat in die hoërhof sal voortduur, beweer hy die NAC se tenderproses was korrup. Hy voer aan Paragon se bod was onvolledig en dat daar vervalste handtekeninge op Paragon se bod verskyn wat onlangs as deel van die rekord by die hof ingedien is.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!