• Tuisblad
  • Howe
  • IPC en Smith-Howard wil ‘vriendskaplik’ skik
PEACE PIPE: The Independent Patriots for Change (IPC), and its former councillor Ciske Smith-Howard will no longer have to reach consensus through the court systems
PEACE PIPE: The Independent Patriots for Change (IPC), and its former councillor Ciske Smith-Howard will no longer have to reach consensus through the court systems

IPC en Smith-Howard wil ‘vriendskaplik’ skik

Ogone Thlage – Die Independent Patriots for Change (IPC) en sy voormalige streekraadslid, Ciske Smith-Howard, het besluit om die strydbyl te begrawe en ’n skikkingsooreenkoms aan te gaan.

Dit volg op Smith-Howard se skorsing uit die party en haar daaropvolgende herroeping as ’n raadslid van die party op 16 Mei 2022.

Met betrekking tot die voorgestelde ooreenkoms, het Smith-Howard gesê die samesprekings duur steeds voort, maar dat hulle besluit het dit sal in beide partye se belang wees om vriendskaplik te skei.

“Ons het nog nie geskik nie, ons het net ooreengekom om die saak terug te trek en ons afsonderlike paadjies te gaan,” het Smith-Howard gesê.

Op ’n vraag wat die toekoms inhou, het Smith-Howard gesê sy sal vir tyd en wyl aan private aktiwiteite deelneem, maar het volgehou dat haar politieke dae nog nie verby is nie.

Smith-Howard sê sy het geen kwade gevoelens jeens die IPC nie, maar het volgehou dat haar openbare sentimente wat sy in die verlede gedeel het, steeds staan.

“Daar is geen kwade gevoelens nie, ek het gesê wat ek voorheen gesê het,” het sy gesê.

Volgens haar is enige eise vir geldelike vergoeding, of om in haar pos heraangestel te word, nie oorweeg nie.

Die IPC se nasionale sekretaris-generaal, Christine Aochamus, wou nie kommentaar lewer nie en het net gesê gesprekke is nog in ’n vroeë stadium.

“Ek is nie in staat om enige inligting rakende die aangeleentheid bekend te maak tot tyd en wyl ons dit gefinaliseer het nie. Ons sal die nodige verklaring op die geskikte tyd gee,” het Aochamus gesê.

Volgens hofdokumente stem die partye ooreen dat geen voorstelling, waarborg of onderneming buite die skikkingsooreenkoms gemaak is nie, tensy dit op skrif gestel en daarna deur beide partye onderteken is, voor dit bindend of van enige krag of effek sal wees. Die partye kom ooreen dat die skikkingsooreenkoms deur eweknieë en deur hul regspraktisyns onderteken kan word sonder dat die geldigheid of die doeltreffendheid van die ooreenkoms in die gedrang kom.

HOFSAKE

In die eerste saak, wat in Desember 2021 aanhangig gemaak is, het Smith-Howard versoek dat die hof haar skorsing uit die IPC ongeldig verklaar. Sy het destyds beweer haar “mondelinge” skorsing uit die party – in Oktober 2021 – was nie in ooreenstemming met die party se grondwet nie, aangesien sy nie in kennis gestel is van enige klagte teen haar soos bepaal deur 'n onafhanklike ondersoeker nie.

Sy het verder beweer sy is nie die geleentheid gegun om te reageer op die bewerings wat tot haar skorsing gelei het nie en dat sy nooit skriftelik van haar skorsing ingelig is nie.

In die ander saak het Smith-Howard meer as N$1,65 miljoen se skadevergoeding van die IPC, Auchomas en die Erongo-streekraad geëis. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer