IUM se hoofkampus in Doradopark in Windhoek. Foto Argief
IUM se hoofkampus in Doradopark in Windhoek. Foto Argief

IUM, CoW in hof oor bouplanne

Kristien Kruger
Die Internasionale Universiteit van Bestuursake (IUM) het Dinsdag in die hoërhof in Windhoek verskyn vir sy saak teen die stadsraad van die Windhoekse munisipaliteit (CoW) waarin die universiteit eis dat die raad goedkeuring moet gee om ’n nuwe saal op sy perseel op te rig.

Die IUM het die stadsraad einde verlede jaar hof toe gesleep nadat die raad nie sy bouplanne vir ’n nuwe veeldoelige saal op IUM se kampus in Doradopark goedgekeur het nie.

Volgens ’n verklaring deur die stigter en voorsitter, David Namwandi, het die universiteit reeds ’n lening van sowat N$65 miljoen uitgeneem om die saal te bou.

Tydens Dinsdag se verrigtinge het die IUM ’n aansoek gebring dat die stads- en streekbeplanningsraad by die saak gevoeg word as die vierde respondent.

Die ander twee respondente is die uitvoerende hoof van die munisipaliteit en die minister van stedelike en landelike ontwikkeling.

AGTERGROND

Die IUM en die munisipaliteit het in 2011 ’n verkoopsooreenkoms gesluit en die IUM het ’n gedeelte van die eiendom in Doradopark gekoop wat in 2012 in die universiteit se naam geregistreer is.

Die IUM het in 2019 besluit om die saal te bou en het glo in Maart 2020 die bouplanne by die munisipaliteit se afdeling vir stadsbeplanning ingedien vir goedkeuring. Die munisipaliteit het ’n hersoneringskwessie uitgelig en stormwatertoestande was onder bespreking. Die CoW het na bewering ook ander voorwaardes vir die goedkeuring van die bouplanne gestel wat verband hou met die finalisering van ’n verkeersimpakstudie en die oprigting van taxigeriewe.

‘ONBILLIKE VOORWAARDES’

Namwandi beweer die voorwaardes vir die goedkeuring is “irrasioneel, onbillik en onredelik”.

“Die voorwaardes hou slegs verband met die kwessies indien die bou van die saal tot meer studente en verkeer sou lei. Die saal sal slegs deur huidige studente en personeel gebruik word,” lui Namwandi se verklaring.

Die waarnemende uitvoerende beampte van die munisipaliteit, Faniel Maanda, sê die munisipaliteit het nog geen finale besluit rakend die goedkeuring van die bouplanne geneem nie.

Die universiteit eis dat die hof die munisipaliteit moet beveel om die bouplanne goed te keur.

“Ek voer aan dat die weiering om die applikant [IUM] se bouplanne goed te keur en die instelling van onregmatige voorwaardes vir die goedkeuring, hersien en tersyde gestel moet word.

“Daar is geen kwessies geopper oor die boumateriaal of tegniese aspekte van die bouplanne nie. Die huidige kwessies kan nie ’n basis wees vir die weiering van die bouplanne nie,” beweer Namwandi in sy verklaring.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 21° | 33° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 22° | 37° Oshakati: 26° | 37° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 21° | 34° Otjiwarongo: 21° | 34° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 22° | 33° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 17° | 20° Swakopmund: 16° | 18° Walvis Bay: 16° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 21° | 35° Keetmanshoop: 18° | 35° Aranos: 24° | 36° Lüderitz: 16° | 28° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 16° | 23° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 29° Lubumbashi: 17° | 28° Mbabane: 16° | 18° Maseru: 16° | 27° Antananarivo: 16° | 25° Lilongwe: 20° | 33° Maputo: 21° | 23° Windhoek: 22° | 33° Cape Town: 17° | 27° Durban: 21° | 22° Johannesburg: 16° | 24° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 19° | 32° Harare: 20° | 29° #REF! #REF!