Die moordbeskuldigde Stockley Kauejao verlede week in die hoërhof in Windhoek se hofsaal by die Windhoek Sentrale Gevangenis. Foto Kristien Kruger
Die moordbeskuldigde Stockley Kauejao verlede week in die hoërhof in Windhoek se hofsaal by die Windhoek Sentrale Gevangenis. Foto Kristien Kruger

Kauejao probeer weer vir borg

Kristien Kruger
Een van die drie mans wat beskuldig word van die moord op ’n bekende veediefstal-ondersoeker van Gobabis, Wilfred Kazeurua, se borgtogaansoek sou verlede week Woensdag begin, maar is onverwags onderbreek.

Dit is Stockley Kauejao se derde borgtogaansoek sedert sy borg in Oktober 2021 teruggetrek is. Die eerste aansoek is uitgegooi omdat die rekord van vorige verrigtinge nie by die aansoek ingesluit was nie en die tweede aansoek het Kauejao teruggetrek voor dit aangehoor kon word.

Die onderbreking in sy huidige aansoek is veroorsaak deur die staat wat beswaar teen die aansoek gemaak het. Die staatsaanklaer, Ezekiel Ipinge, het aangedui dat die hof die verrigtinge in die hoofverhoor in ag moet neem asook die feit dat die hof reeds beslis het dat die staat ’n prima facie-saak teen Kauejao het.

AGTERGROND

Die staat beweer Kauejao en sy medebeskuldigdes, Muvare Kaporo en Matheu Kakururume, het samegesweer om Kazeurua te vermoor en sodoende te verhoed dat hy die 15 beeste wat hulle glo gesteel het, opspoor.

Kazeurua is glo in Desember 2012 aangeval en verwurg. Sy liggaam is daarna aan die brand gesteek en begrawe. Die lyk is eers op 7 Januarie 2013 in ’n erdvarkgat gevind.

Die verhoor het reeds in 2015 begin, maar is nog nie afgehandel nie.

‘NIKS HIERMEE TE DOEN’

Ipinge het daarop gewys dat die staat reeds hul saak in die hoofverhoor gesluit het en die verdediging, wat Kauejao insluit, ’n aansoek om kwytskelding gebring het op grond van die bewering dat die staat nie genoeg bewyse gelewer het om hulle skuldig te bevind nie. Die aansoek is van die hand gewys en die regter het beslis die staat het ’n prima facie-saak teen die beskuldigdes.

Ipinge het benadruk dat Kauejao daarna die getuienisbank ingeneem het om in sy eie verdediging te getuig en geweier het om enige van die staat se vrae te beantwoord.

“Hierdie aansoek is gegrond op nuwe feite wat nie ten tyde die beskuldigde se vorige borgtogaansoek bestaan het nie. Die enigste plig van hierdie hof is om vas te stel of dit wel nuwe feite is. Die hoofverhoor het niks met hierdie verrigtinge te doen nie,” het Kauejao se regsverteenwoordiger, Salomon Kanyemba, verlede week in die hof gesê.

Regter Philanda Christiaan het beveel dat die staat sy argumente op skrif moet sit en dit aan Kanyemba moet stuur. Kanyemba het tot Donderdagmiddag 13:00 tyd gehad om daarop te reageer. Christiaan het aangedui dat sy môre haar beslissing sal bekend maak oor of die borgtogaansoek sal voortgaan.

BORG TERUGGETREK

Ipinge het ook daarop gewys dat Kauejao wel op borgtog was tot dit in Oktober 2021 teruggetrek is. Die voorsittende regter van Kauejao se hoofverhoor, Alfred Siboleka, het destyds bevind dat hy met opset die verrigtinge vertraag en dit nie in belang van die regspleging is dat hy borgtog vrygelaat word nie.

Kanyemba het aangevoer die borgtog wat teruggetrek is behoort ook geen impak op die huidige verrigtinge te hê nie.

“Die staat probeer ’n aansoek blokkeer wat regmatiglik op die wet gegrond is.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!