• Tuisblad
  • Howe
  • Konsultasies ’n rookskerm vir omkoopgeld, sê staat
Die Fishrot-beskuldigde, mnr. Tamson 'Fitty' Hatuikulipi, gister in die hoërhof in Windhoek. Foto Facebook
Die Fishrot-beskuldigde, mnr. Tamson 'Fitty' Hatuikulipi, gister in die hoërhof in Windhoek. Foto Facebook

Konsultasies ’n rookskerm vir omkoopgeld, sê staat

‘Stefánsson sê daardie fakture is vals’
Die borgtogaansoek hervat vandag met mnr. Tamson Hatuikulipi se vyfde dag onder kruisondervraging.
Kristien Kruger
“Stefánsson sê daardie fakture is vals – jy het nooit enige konsultasiewerk gedoen nie.”

So het die staatsaanklaer, mnr. Ezekiel Ipinge, gister aan een van die Fishrot-beskuldigdes, mnr. Tamson (Fitty) Hatuikulipi, gesê.

Hy het Hatuikulipi tydens sy aansoek om borgtog uitgevra oor die meer as N$80 miljoen wat hy na bewering van Samherji ontvang het.

Ipinge het na die verklaring van die hokaairoeper, mnr. Johannes Stefánsson, verwys wat beweer dat Hatuikulipi geen konsultasiedienste gelewer het nie, en dat dié betalings omkoopgeld was vir die projekte wat Samherji in Namibië uitgevoer het.

Tamson het dié bewerings ontken.

“Ek is betaal vir die werk wat ek vir Samherji gedoen het. Ek het waardevolle werk gedoen,” het hy gesê.

Hatuikulipi het getuig dat Samherji hom aangestel het om maatskappye met visvangregte en –kwotas in Namibië te oortuig om langtermyn-ooreenkomste met Samherji aan te gaan om hulle vis te vang. Hatuikulipi het getuig dat mnr. James Hatuikulipi met die regtehouers ontmoet het en hy was verantwoordelik vir strategiese beplanning.

Volgens hom het Samherji besluit hoeveel hy betaal moes word en het selfs gesê as hulle besluit het om hom net N$100 te betaal, sou hy tevrede daarmee wees.

HOKAAIROEPER

Ipinge het Hatuikulipi gevra oor sy getuienis waarin hy glo gepoog het om Stefánsson onder verdenking te plaas.

Hy het getuig dat Stefánsson glo gereeld drank en dwelms gebruik en misbruik het.

Ipinge het aan Hatuikulipi gestel dat hy self getuig het dat Samherji, onder Stefánsson se bestuur, goed gevaar het en dat dit nie moontlik sou wees as Stefánsson ’n drankprobleem gehad het nie.

Volgens Hatuikulipi was dit die mense wat onder Stefánsson gewerk het wat ’n sukses van die onderneming gemaak het.

“Hierdie man het jou ’n miljoenêr gemaak.”

“Nie hy nie, maar die werk wat ek vir hom gedoen het. Jy kan nie iemand ’n miljoenêr maak as jy self nie een is nie,” het Hatuikulipi geantwoord.

‘DOKUMENTE MEE GEPEUTER’

Hatuikulipi het deur die loop van sy kruisondervraging voortdurend beweer dat daar met die dokumente gepeuter is wat die staat as bewysstukke indien en waaroor hulle vrae aan hom rig.

Op grond hiervan het hy telkemale geweier om die staat se vrae te beantwoord.

“Die staat peuter nie aan enige dokumente nie. Ons lewer dokumente wat jou korrupte bedrywighede toon. Daar is geen vuilspel van die staat nie,” het Ipinge gister aangevoer.

Hatuikulipi het nie daarmee saamgestem nie.

Daar was een e-pos wat Hatuikulipi glo in 2010 aan Stefánsson gestuur het, maar hy het getuig hy het Stefánsson eers in November 2011 ontmoet. Hy het beweer dit is genoegsame bewyse dat die dokumente nie oorspronklik is nie.

BEDROG, BELASTINGONTDUIKING

Ipinge het ook vrae gerig oor die klagte van bedrog en belastingontduiking waarop Hatuikulipi teregstaan.

Die staat beweer Hatuikulipi en sy medebeskuldigdes het saamgesweer om te verhoed dat Nangomar belasting in Namibië betaal.

“’n Gedeelte van die geld van Nangomar, wat dit van die visvangkwotas ontvang het, is na Dubai oorgeplaas. Sowat U$4 miljoen is na ’n maatskappy oorgeplaas wat aan James behoort.”

Die borgtogaansoek duur vandag voort.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!