• Tuisblad
  • Howe
  • Kontrakteur dagvaar ministerie vir meer as N$40 m.
Die ministerie van werke en vervoer se kantore in die hoofstad. Foto Argief
Die ministerie van werke en vervoer se kantore in die hoofstad. Foto Argief

Kontrakteur dagvaar ministerie vir meer as N$40 m.

Eis kontraktuele skadevergoeding
Die konstruksie van kantore vir 'n veeartsenykliniek op Tses wat in 2016 begin het, is steeds nie voltooi nie.
Kristien Kruger
’n Maatskappy het ’n eis van meer as N$40 miljoen teen die ministerie van werke en vervoer aanhangig gemaak met betrekking tot die konstruksie van kantore vir ’n veeartsenykliniek en personeelverblyf op Tses in die ||Kharasstreek .

Die ministerie het Proven Investments in Julie 2015 as die hoofkontrakteur van die projek aangestel. In ’n aansoek wat voor die hoërhof in Windhoek gebring is, beskuldig die maatskappy die ministerie van kontrakbreuk en stel hy dat die projek nooit voltooi is nie.

Proven eis sowat N$5,6 miljoen vir die kontraktuele skadevergoeding en byna N$35,6 miljoen vir verlies aan inkomste en onverwagte uitgawes.

AGTERGROND

In terme van die kontrak wat tussen die twee partye gesluit het, sou die ministerie die maatskappy met sowat N$11,5 miljoen vergoed. Proven Investments het in Junie 2015 in ’n oordragsooreenkoms met die Ontwikkelingsbank van Namibië (DBN) en die ministerie aangegaan. Ingevolge dié ooreenkoms moes Proven die betaling vir die konstruksieooreenkoms aan die DBN sedeer, wat dan direkte betalings aan die Bank of Namibia (BoN) sou maak. BoN sou glo enige daaropvolgende betalings aan Proven en ander derde partye maak.

Proven beweer hy het in Junie 2016 met konstruksiewerk begin. Hy voer verder aan die ministerie het sedert Januarie 2020 versuim om betalings aan die DBN te maak. Die maatskappy beweer die ministerie het ook nie die tekeninge, hoeveelheidslyste en subkontraktuele spesifikasies verskaf om hom in staat te stel om die projek af te handel nie en die ministerie het glo versuim om 'n nuwe lys van alle uitstaande werke te voorsien.

“Die eerste verweerder [ministerie] het dit dus vir die eiser [Proven] onmoontlik gemaak om die projek te finaliseer,” lui Proven se eisbesonderhede wat in Maart by die hof ingedien is.

Proven is deur die DBN as 'n wanbetalende skuldeiser gelys en is hy tans nie in staat om lenings of kredietfasiliteite vir die maatskappy se sakebedrywighede te verseker nie. Proven beweer hy het 'n geprojekteerde inkomsteverlies van N$20 miljoen gely weens die ministerie se “onregmatige” kontrakbreuk.

Die ministerie het glo ook in stryd met die ooreenkoms opgetree in verband met die subkontraktering van dienste aan ander maatskappye.

“Die subkontrakteurs is verkeerdelik deur die DBN betaal en het sedertdien die projek laat vaar.”

Proven beweer hy het sedert Julie 2015 tot Januarie 2022 op die projekperseel gebly en kostes aangegaan vir die handhawing van sekuriteit, betaling aan werknemers en algemene onderhoud van perseeltoerusting.

Proven het in die verlede ’n versoek aan die ministerie gerig om te reël dat die projek voltooi word. Die ministerie het glo gesê 'n vergadering sal belê word om dit te reël, maar geen sodanige vergadering het plaasgevind nie.

Partye het die afgelope Donderdag in die hof verskyn en hoewel die minsiterie reeds aangedui het dat hy die saak sal teenstaan, het hy nog geen pleitstukke ingedien nie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!