Kostenders vir koshuise in spervuur

Kontrak meer as N$3,6 miljard werd
Die herevalueringsproses in opdrag van 'n hersieningspaneel het nooit plaasgevind nie.
Henriette Lamprecht
’n Tenderaar vir die kontrak om spyseniersdienste aan staatskoshuise in Namibië te voorsien, het ’n hoërhofaansoek ingedien dat die Sentrale Verkrygingsraad van Namibië se besluit in Oktober verlede jaar om die tender te kanselleer, ter syde gestel word.

Pamo Trading Enterprises cc vra ook dat die tenders vir die kontrak wat sowat N$3,6 miljard werd is, herevalueer word soos deur die hersieningspaneel op 18 Maart verlede jaar beveel is.

Die aansoek vir hersiening is deur Pamo Trading Enterprises cc teen die Sentrale Verkrygingsraad en sy voorsitter, die ministeries van finansies en onderwys, kuns en kultuur, die hersieningspaneel en 92 ander respondente gebring.

Mnr. Leon Lombard sê in sy verklaring en in sy kapasiteit as algemene bestuurder, die herevalueringsproses het nooit plaasgevind nie.

Volgens hom is ’n advertensie op 6 Oktober verlede jaar in ’n Engelse dagblad geplaas vir ’n nuwe tenderproses onderhewig aan die besluit van die paneel.

Op 12 Oktober het Pamo Trading Enterprises ’n kennisgewing van die Verkrygingsraad ontvang dat die tender gekanselleer is wat volgens Lombard die bevel van die paneel ignoreer.

Die raad voer in sy redes onder meer aan die riglyne en punte wat in die evaluering deur die paneel gebruik moet word, was nie ingesluit in die tenderdokument nie. Die paneel moes gevolglik staatmaak op iets wat nie met bieërs tydens die tenderproses gedeel is nie en wat dui op ’n ongerymdheid.

Lombard se verweer is egter laasgenoemde moet in die tenderproses self en nie in die evalueringsproses wees nie. Ook kan die uitkoms van die tenderproses net bepaal word nadat die tenders behoorlik geëvalueer is.

“Totdat die evaluering behoorlik en soos beveel deur die paneel gedoen is, is daar geen uitkoms nie,” lui hofstukke.

Lombard sê in hofstukke Pamo Trading Enterprises was nie tevrede met die uitkoms van die tenderproses nie en het gevolglik ’n aansoek vir die hersiening van die besluit ingedien. Die besluit is ook deur verskeie ander bieërs ondersteun en gevolg.

Volgens Lombard het die hersieningspaneel bevind die evaluering van die verskillende tenderaansoeke is nie in ooreenstemming met ’n bepaling van die Openbare Verkrygingswet gedoen nie. Laasgenoemde vereis dat elke tender geëvalueer moet word volgens die kriteria en metodologie soos vervat in die tenderdokument.

Die paneel het die tender terug na die Verkrygingsraad verwys vir heroorweging met spesifieke instruksies wat onder meer ingesluit het dat die herevaluering streng in ooreenstemming met die kriteria vir bieërs ooreenkom en dat dit ingevolge die wet is. Ook dat die herevaluering beperk is tot bieërs wat op skrif ingestem het tot die verlenging van die geldigheidstydperk van die tender.

Sou die herevaluering langer as die oorblywende gedeelte van die verlengde geldigheidstydperk wees, moet die Verkrygingsraad nog ’n verlenging met bieërs vasstel.

Volgens Lombard het dit die raad verplig om die tenders te herevalueer en gee dit aan elke bieër die gepaardgaande reg dat sy tender behoorlik herevalueer word. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!