Nadat Alexander Krylov maande gelede skuldig bevind en gevonnis is, hoop hy en sy medebeskuldigde om teen hul skuldigbevinding en vonnisoplegging te appelleer. Foto Iréne-Mari van der Walt
Nadat Alexander Krylov maande gelede skuldig bevind en gevonnis is, hoop hy en sy medebeskuldigde om teen hul skuldigbevinding en vonnisoplegging te appelleer. Foto Iréne-Mari van der Walt

Krylov, Engelbrecht wil appelleer

Regter, hof glo ‘partydig’
Alexander Krylov en Anna Engelbrecht wil teen hul skuldigbevinding en vonnisoplegging vir verkragting en kinderhandel appelleer.
Iréne-Mari van der Walt
Die Russiese burger Alexander Krylov en sy Namibiese medepligtige Anna Engelbrecht het verlede week in die hoërhof in Windhoek verskyn vir hul aansoek om verlof tot appèl waarin hul poog om teen hul skuldigbevinding en vonnisoplegging te appelleer.

Regter Claudia Claasen het in Februarie vanjaar vir Krylov en Engelbrecht skuldig bevind aan onder meer verkragting en kinderhandel en hul onderskeidelik 35 en 20 jaar tronkstraf opgelê.

“Die regter het bewyse of feite gegenereer wat nie deur getuies tydens die verhoor voorgelê is nie,” beweer Krylov en Engelbrecht se regsverteenwoordiger, Ileni Velikoshi, in hofstukke wat by die hof ingedien is.

Claasen het glo tydens die verhoor ook die indruk geskep dat sy nie onpartydig was nie en het glo ingemeng met die ondervraging en kruisondervraging van getuies.

SLAGOFFERS ‘GEWILLIG’

Krylov en Engelbrecht beweer die verskeie minderjarige meisies vir wie Krylov verskeie kere verkrag het, was gewillig om in seksuele aktiwiteite met Krylov deel te neem.

Die twee glo die feit dat die meisies betaal is vir hul seksuele gunste, het nie gedien as ’n manier om toestemming te verseker nie, maar dit was eerder tot die meisies se voordeel.

Hulle verwys ook in hul hofstukke na die getuienis van een van die meisies wat gesê het dat hulle “in besigheid” was en nie die geleentheid sou laat verbygaan om geld te maak nie.

Velikoshi voer verder aan verskeie slagoffers in Krylov en Engelbrecht se misdade het gejok oor hul ouderdomme en volgens hulle is dit onregverdig dat die hof na foto’s gekyk en op grond daarvan bepaal het dat die meisies minderjarig lyk.

“Die fotoplan sluit nie al die klaers in nie. In hierdie verband het die hof fouteer deur nie sy gevolgtrekking op die klaers se gedrag, vlak van volwassenheid, voorkoms of houding te baseer nie.”

MENSEHANDEL

Velikoshi het namens beide beskuldigdes gesê die hof het hulle nie ’n regverdige verhoor gebied nie. Hulle voer aan die hof het nie hul bedoeling en kennis van hul optrede ten volle in ag geneem nie.

Hulle voer ook aan dat hulle as regsleke nie bewus was van die feit dat hul optrede as mensehandel beskou kan word nie en beweer dat die staat nie voldoende bewyse gelewer het om hul skuld op die klagte van mensehandel te bewys nie.

Engelbrecht, wat glo die meisies vir Krylov gewerf het, beweer dat haar teenwoordigheid nie gebruik is om die meisies te intimideer nie en dat sy dus nie skuldig kan wees aan verkragting deur dwingende omstandighede nie.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!