Mnr. August Maletzky Foto Argief
Mnr. August Maletzky Foto Argief

Lekeregsman se verhoor uitgestel

Klagte van bedrog, korrupsie, vervalsing
Die eienaar van die huis het verlede maand getuig en gesê hy het nooit vir mnr. August Maletzky toestemming gegee om die huis namens hom te verkoop nie.
Kristien Kruger
Die verhoor van die lekelitigant, mnr. August Maletzky, wat tereg staan op klagte van bedrog, korrupsie, geldwassery, vervalsing en sameswering om bedrog en korrupsie te pleeg, is Maandag uitgestel.

Maletzky het na bewering ’n huis wat hy in Julie 2017 vir N$10 000 per maand begin huur het, onder die neus van die 80-jarige Angolese eienaar, mnr. Samuel Dias, verkoop.

Dias het Windhoek in Februarie 2018 besoek en uitgevind sy huis is reeds in September 2017 vir ongeveer N$2,5 miljoen verkoop.

Die staat beweer Maletzky het onregmatig ’n vervalste volmag van Dias gebruik wat hom toestemming gegee het om die eiendom te verkoop.

Die volmag is gebruik om die huis in Desember 2017 in die naam van die nuwe eienaar oor te plaas nadat Maletzky glo die koopakte as die verkoper geteken het.

’n Prokureur, mnr. Titus Mbaeva, het die volmag onderteken.

Mbaeva was ’n medebeskuldigde in die saak, maar is verlede jaar oorlede.

Maletzky deel wel die beskuldigingsbank met een van sy voormalige werknemers, mnr. Simon Afrikaner. Beide mans het aan die begin van die verhoor onskuldig gepleit.

Maletzky verteenwoordig homself nadat sy aansoek om regshulp van die hand gewys is.

Die verhoor sou Maandag in die hoërhof in Windhoek hervat, maar die staatsgetuie was nie beskikbaar nie en die saak is gevolglik uitgestel.

Die verhoor sal op 5 September hervat en is geskeduleer om tot 9 September te duur.

DIAS GETUIG

Dias het verlede maand tydens die verhoor voor regter Herman January getuig en gesê hy het nooit vir Maletzky toestemming gegee om sy huis te verkoop nie.

Toe hy, sy vrou, Mawete, en hul dogter, Maria, uiteindelik in Februarie 2018 in Windhoek aankom, het hulle hul huisraad op ’n hopie aangetref en die nuwe “eienaar” was reeds besig met omvattende bouwerk.

Volgens hom het die burgeroorlog in sy vaderland en die beter gehalte van hoër onderwys in Namibië, hom genoop om die huis te koop aangesien al drie sy kinders hier kom studeer het.

“En ek het nooit planne gehad om die huis te verkoop nie omdat dit vir ons ’n Namibiese tuiste gebied het en ek voorsien het dat my kleinkinders ook hier sou kom studeer en in die huis sou woon,” het hy gesê.

Benewens die feit dat hy glo nooit toestemming gegee het vir sy huis om verkoop te word nie, is dit nog teen die helfte minder as die markwaarde van nagenoeg N$5 miljoen verkwansel.

Dias het net die hoofhuis aan Maletzky verhuur en die woonstel en die motorhuis oopgehou vir wanneer hulle in Windhoek is.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!