Lichtenstrasser kry 66 jaar

Moorde deeglik beplan, sê regter
Ernst Lichtenstrasser het tydens gister se hofverrigtinge aangedui dat hy van voorneme is om 'n aansoek om verlof tot appèl in te dien.
Iréne-Mari van der Walt
“Die bose dade waaraan die beskuldigde skuldig bevind is, weerspieël ongetwyfeld nadelig op die beskuldigde se karakter.”

So het regter Christie Liebenberg gister tydens die dubbele moordenaar Ernst Lichtenstrasser (62) se vonnisoplegging gesê.

Lichtenstrasser is gister in die hoërhof in Windhoek gevangenistraf van 66 jaar opgelê.

Liebenberg het in sy vonnisoplegging gesê die moorde op die direkteur, Eckhart Mueller, en sy adjunk, Heimo Hellwig, van die Namibië Instituut van Mynbou en Tegnologie (Nimt) in 2019 was “gevoelloos en uiters”.

Liebenberg het twee lewenslange vonnisse (25 jaar elk) aan Lichtenstrasser vir die moorde opgelê en ’n bykomende 16 jaar vir die ander aanklagte waarop hy skuldig bevind is.

“. . . weens die rede dat die beskuldigde se skaamtelose, genadelose teregstelling van die oorledenes onregverdig, uiters en onwaardig vir enige vorm van simpatie is.

“Hoewel simpatie nie verdien of daarop aangedring moet word nie, sal dit slegs in welverdiende gevalle betoon word; die huidige saak is nie so ’n geval nie,” het die regter tydens sy uitspraak gesê.

Lichtenstrasser het volgens Liebenberg die moorde beplan.

“Daar kan uit die bewyse afgelei word dat die moorde gepleeg is ná deeglike beplanning rakende die metode, milieu en tyd van die teregstelling,” het hy gesê.

Ten spyte van Lichtenstrasser se gevorderde ouderdom het Liebenberg beslis dat hy ’n gevaar vir die samelewing is en dus agter tralies moet bly.

In verband met Lichtenstrasser se poging tot selfdood verlede jaar, en sy eetstaking vroeg vanjaar, het Liebenberg gesê dat hierdie optrede Lichtenstrasser 'n gevaar vir homself maak.

“Dit sal verhoed dat die beskuldigde nie net ’n bedreiging vir die samelewing is nie, maar ook ’n gevaar vir homself is,” het Liebenberg gesê.

Hy is ook skuldig bevind op ses bykomende aanklagte teen hom; twee aanklagte vir die besit van 'n vuurwapen sonder 'n lisensie, waarvoor hy vir elke klag drie jaar tronkstraf opgelê is; die onwettige besit van ammunisie, waarvoor hy tot een jaar tronkstraf gevonnis is; dwarsboming van die gereg, waarvoor hy tot vier jaar tronkstraf gevonnis is; diefstal waarvoor hy vier jaar tronkstraf ontvang het; en die ongemagtigde verskaffing van ’n vuurwapen en ammunisie, waarvoor hy tot een jaar tronkstraf gevonnis is.

Dit is gesamentlik 16 jaar wat by Lichtenstrasser se twee lewenslange vonnisse gevoeg is.

Lichtenstrasser het tydens gister se hofverrigtinge aangedui dat hy van voorneme is om ’n aansoek om verlof tot appèl in te dien, nog voor Liebenberg met die vonnisoplegging begin het.

Toe die regter ná die vonnisoplegging aan Lichtenstrasser gesê het dat hy nie gronde kon gehad het om voor die vonnisoplegging te appelleer nie, het Lichtenstrasser aan die regter gesê hy het “hierdie soort vonnis verwag” en “daarvolgens voorberei”.

Lichtenstrasser mag binne die volgende 14 dae ’n amptelike aansoek om verlof tot appèl bring.

Indien die aansoek suksesvol is, kan sy appèlaansoek in die hooggeregshof aangehoor word.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!