Lichtenstrasser onttrek sy aansoek om verlof tot appèl
Hof bevind kennisgewing is gebrekkig
Indien Ernst Lichtenstrasser weer sy aansoek om verlof tot appèl bring en daarin slaag, sal hy in die hooggeregshof teen regter Christie Liebenberg se uitspraak kan appelleer.
Die moordenaar Ernst Lichtenstrasser het gister sy aansoek om verlof tot appèl in die hoërhof teruggetrek, nadat regter Christie Liebenberg aanbeveel het dat hy dié aansoek weer van voor af bring met vollediger redes.
Dit nadat die staatsaanklaer Antonia Verhoef gesê het sy kan nie reageer op die redes wat Lichtenstrasser in sy aansoek uiteengesit het nie, omdat dit te vaag is.
“Die kennisgewing van sy aansoek stel bloot dat hy nie net een rede het om te appelleer nie. Die kennisgewing is gebrekkig – dit bevat nie duidelike en spesifieke gronde waarop sy aansoek gebaseer is nie,” het Verhoef aan Liebenberg gesê.
Lichtenstrasser, wat tans sonder ’n regsverteenwoordiger is, het op Verhoef se beswaar geantwoord dat hy onder die indruk was dat daardie inligting in sy argumente moet wees.
Liebenberg het toe aan Lichtenstrasser gestel dat hy kan kies om voort te gaan met sy aansoek soos dit is of dat hy die aansoek kan terugtrek en dit weer kan bring met ’n aansoek om kondonasie wat aandui dat hy besef het sy oorspronklike aansoek was foutief.
Hy het gevolglik sy aansoek onttrek waarin hy om verlof tot appèl teen sy skuldigbevinding en vonnis vra.
Lichtenstrasser is verlede November skuldig bevind aan die moorde op Eckhart Mueller en Heimo Hellwig, die direkteur en adjunkdirekteur van die Namibiese Instituut vir Mynbou en Tegnologie (Nimt) in April 2019. Hy is in April vanjaar op die ouderdom van 62 tot 66 jaar tronkstraf gevonnis.
Lichtenstrasser voer aan dat die hof die staat se saak by verskeie geleenthede tydens sy verhoor bevoordeel het
Sy prokureur, Albert Titus, wat homself ná Lichtenstrasser se skuldigbevinding onttrek het, het in sy laaste betoë gesê die verskillende omstandighede wat die vinger na Lichtenstrasser wys, is “alles ’n reusetoeval”.
Liebenberg het die teenoorgestelde in sy uitspraak gevind en gesê: “Wanneer jy die kolletjies verbind, wys dit net na een persoon en dit is die beskuldigde.”
Liebenberg het Lichtenstrasser tydens vonnisoplegging as ’n gevaar vir die samelewing beskryf. Liebenberg het bevind dat Lichtenstrasser nie op simpatie of genade geregtig was nie.
“Daar kan uit die getuienis afgelei word dat die moorde gepleeg is ná deeglike beplanning rakende die metode, milieu en tyd van die teregstelling,” het Liebenberg tydens vonnisoplegging gesê.
Indien Lichtenstrasser weer sy aansoek om verlof tot appèl bring en daarin slaag, sal hy in die hooggeregshof teen Liebenberg se uitspraak kan appelleer.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie