Lichtenstrasser-saak: Sielkundige getuig

'n Kliniese sielkundige het gister getuig dat Ernst Lichtenstrasser sy skulderkenning onder dwang afgelê het.
Iréne-Mari van der Walt
“Die omstandighede van sy ondervraging het kenmerke van marteling.”

Só het Ute Sinkala, ’n kliniese sielkundige van Windhoek, gister in die dubbele moordverhoor van Ernst Lichtenstrasser in die hoërhof in Windhoek getuig met betrekking tot sy gemoedstoestand tydens ’n polisieondervraging waarin hy op ’n video-opname skuld erken het.

Sinkala het ’n verslag saamgestel waarin Lichtenstrasser se emosionele en sielkundige toestand tydens sy skulderkenning vasgestel is. Dié skulderkenning is verlede jaar deur die voorsittende regter Christie Liebenberg as bewysstuk in die verhoor toegelaat.

Sy het die skulderkenning – wat op video-opname vasgevang is – is eers aan haar beskikbaar gestel ná sy reeds die verslag voltooi het. Sy het wel onder meer Lichtenstrasser se mediese geskiedenis, familiegeskiedenis en vorige trauma in ag geneem om insig in sy emosionele welstand te kry.

Sinkala het bevind dat Lichtenstrasser tydens sy skulderkenning “onder enorme dwang was” en het die hof aangeraai om sy toestand in ag te neem wanneer die videomateriaal van sy bekentenis nagegaan word.

Sinkala het ook getuig dat Lichtenstrasser se posttraumatiese stres (PTSD) asook sy depressie, ’n rol gespeel het toe hy sy bekentenis afgelê.

“Hy was uiters gestres en desperaat om uit daardie situasie te kom,” het sy getuig.

Lichtenstrasser se mediese toestand het ook volgens Sinkala bygedra tot sy kwesbaarheid. Sy het verwys na ’n skouerbesering wat glo vererger is aangesien sy hande agter sy rug geboei was, asook ’n beweerde urienweginfeksie en gehoorprobleme wat glo met moegheid gepaard gegaan het. Volgens haar het dit waarskynlik ’n rol gespeel in Lichtenstrasser se psige tydens sy skulderkenning.

“Hy was in ’n kwesbare en gekompromitteerde gemoedstoestand.”

Volgens Sinkala kon bloot die feit dat hy sy bekentenis in boeie afgelê het daartoe gelei het dat hy meer kwesbaar gevoel het.

KRUISONDERVRAGING

Die staatsaanklaer, Antonia Verhoef, het tydens kruisondervraging daarop gewys dat Lichtenstrasser glo steeds handgebare gebruik het ten spyte daarvan dat sy hande geboei was.

Verhoef het ook aan Sinkala gestel hy het sersant Mattheo Mulauli verseker dat hy gemaklik was deur te sê: “Ek voel gemaklik, my werk is nie om gemaklik te wees nie.”

Verhoef het ook gesê Lichtenstrasser se gehoorprobleme het klaarblyklik geen impak op sy skulderkenning gehad het nie omdat hy nooit vir klarigheid of herhaling gevra het nie. Sinkala het hierop geantwoord dat Lichtenstrasser se voortdurende gehoorprobleme ’n stresfaktor was wat waarskynlik tot sy stresvlakke bygedra het.

Lichtenstrasser staan tereg op die moorde van die Namibiese Instituut vir Mynbou en Tegnologie (Nimt) se direkteure, Eckhart Mueller en Heimo Hellwig, in 2019. Hy is sedert 16 April 2019 in aanhouding.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!