• Tuisblad
  • Howe
  • Lichtenstrasser se poging tot appèl afgeskiet
Ernst Lichenstrasser Foto argief
Ernst Lichenstrasser Foto argief

Lichtenstrasser se poging tot appèl afgeskiet

‘Geen vooruitsig op sukses’
Die aansoek om verlof tot appèl om teen sy vonnis en skuldigbevinding in die hooggeregshof te appelleer, is Maandag van die hand gewys.
Kristien Kruger
Die veroordeelde dubbele moordenaar, Ernst Lichtenstrasser (62), sal nie toegelaat word om teen sy vonnis van 66 jaar tronkstraf te appelleer nie.

Dit kom nadat regter Christie Liebenberg Maandag sy aansoek om verlof tot appèl in die hoërhof in Windhoek van die hand gewys het.

Dit was Lichtenstrasser se tweede poging om sy vonnis en skuldigbevinding in die hooggeregshof uit te daag.

Die eerste aansoek om verlof tot appèl is drie maande gelede van die hand gewys en hiertydens het Liebenberg aanbeveel dat hy dié aansoek weer van voor af bring met vollediger redes.

Die staatsaanklaer Antonia Verhoef het gesê sy kan nie reageer op die redes wat Lichtenstrasser in sy aansoek uiteengesit het nie, omdat dit te vaag is.

Die gronde vir Lichtenstrasser se jongste aansoek om verlof tot appèl was die bewerings dat sy grondwetlike reg op ’n regverdige verhoor geskend is en dat die hof bevooroordeeld teen hom was tydens sy verhoor.

Hy beweer verder dat sy grondwetlike reg op menswaardigheid deur die polisiebeamptes geskend is voordat hy ’n bekentenis gemaak het toe hy in aanhouding was.

Hy voer aan dat die bekentenis op grond hiervan nie tydens sy verhoor toegelaat moes word nie.

Liebenberg het egter in sy uitspraak in die aansoek om verlof tot appèl aangevoer dat geen van Lichtenstrasser se regte tydens die neem van die bekentenis geskend is nie en die bekentenis is dus as bewysstuk in die verhoor toegelaat.

Liebenberg het die aansoek van die hand gewys aangesien hy meen Lichtenstrasser het geen vooruitsigte op sukses indien hy ’n appèlaansoek by die hooggeregshof indien nie.

VERHOOR EN VONNIS

Lichtenstrasser het in April 2019 die direkteur, Eckhart Mueller, en sy adjunk, Heimo Hellwig, van die Namibië Instituut van Mynbou en Tegnologie (Nimt) op die Arandis-kampus doodgeskiet.

Daar is gespekuleer dat Lichtenstrasser, wat in diens was by Nimt, ontevrede was met ’n raadsbesluit dat hy oorgeplaas moet word vanaf Tsumeb na Keetmanshoop.

Liebenberg het in April vanjaar twee lewenslange vonnisse aan Lichtenstrasser opgelê vir die moorde en ’n bykomende 16 jaar vir die ander klagte waarop hy skuldig bevind is. Dié klagte sluit in dwarsboming van die gereg, die onwettige besit van ’n vuurwapen sonder ’n lisensie en die onwettige besit van ammunisie.

Liebenberg het ook bevind dat Lichtenstrasser die moorde beplan het en dat hy ’n gevaar vir die samelewing is. Hy het ook bevind dat Lichtenstrasser geen simpatie verdien nie.

“Hoewel simpatie nie verdien of op aangedring moet word nie, sal dit slegs in welverdiende gevalle betoon word. Die huidige saak is nie so ’n geval nie.

“Die beskuldigde se skaamtelose, genadelose teregstelling van die oorledenes [was] onregverdig, uiters en onwaardig vir enige vorm van simpatie,” het Liebenberg destyds in sy uitspraak gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!