• Tuisblad
  • Howe
  • Lichtenstrasser se saak uitgestel tot Oktober
Die dubbele moordbeskuldigde, mnr. Ernst Lichtenstrasser, in die hoërhof in Windhoek. Foto Stefan Noechel
Die dubbele moordbeskuldigde, mnr. Ernst Lichtenstrasser, in die hoërhof in Windhoek. Foto Stefan Noechel

Lichtenstrasser se saak uitgestel tot Oktober

Steeds besig met binneverhoor
'n Beampte van die Namibiese polisie het verlede week getuig dat Lichtenstrasser hom gevra het om hom te skiet.
Stefan Noechel
Die binneverhoor in die moordsaak van mnr. Ernst Lichtenstrasser is verlede Vrydag onderbreek en verrigtinge is tot 17 Oktober uitgestel.

Die binneverhoor het verlede Woensdag in die hoërhof in Windhoek begin en dié Donderdag het die voormalige inspekteur van die Namibiese polisie (Nampol), mnr. Lodewyk van Graan, die getuiebank ingeneem.

Volgens Van Graan se getuienis was hy teenwoordig toe die polisie vir Lichtenstrasser ondervra het.

Aangesien die binneverhoor handel oor die toelaatbaarheid van ’n digitale opname wat tydens een van die ondervragings gemaak is, kan die inhoud daarvan nog nie bekend gemaak word nie.

Van Graan het sy kollega se weergawe, wat die vorige dag getuig het, gestaaf deur te getuig dat Lichtenstrasser se regte aan hom verduidelik is. Lichtenstrasser is na bewering van sy reg op regsadvies ingelig, maar wou nie daarvan gebruik maak nie.

Van Graan het getuig Lichtenstrasser wou tydens die ondervraging skielik terug na sy sel geneem word. Dié versoek is toegestaan. ’n Kort rukkie later wou hy glo teruggeneem word na die kantoor waar die ondervraging begin het. Hy wou volgens Van Graan ’n skuldbekentenis aflê.

’n Ander staatsgetuie en Nampol-beampte van Walvisbaai, mnr. Mateu Mulauli, wat verlede Vrydag getuig het, het gesê terwyl hy Lichtenstrasser terug na sy sel begelei het, het hy glo vir hom (Mulauli) gevra het om “hom te skiet”.

Mulauli, wat geen patrone vir sy dienswapen by hom gehad het nie, het aan Lichtenstrasser verduidelik hy het nog nooit in sy lewe iemand geskiet nie en is nie van plan om dit nou te doen nie.

Lichtenstrasser het glo geantwoord dat dit hom ‘n “held” sou maak. Mulauli het dié voorval in sy amptelike verklaring genoem.

Mulauli het Lichtenstrasser daarna na die kantoor van wyle Anna Kapena Mutumbulua, ’n oudpolisiebeampte, geneem en gehoor hoe Lichtenstrasser of vir homself of vir Mutumbulua gesê het “ek moes dit nie gedoen het nie” en “ek wil die waarheid vertel”.

Lichtenstrasser se regsverteenwoordiger, mnr. Albert Titus, het beswaar teen dié stellings gemaak aangesien Mulauli dit nie in sy verklaring genoem het nie.

Indien die binneverhoor nie in Oktober afgehandel word nie, sal dit weer vanaf 5 tot 15 Desember voortgaan.

Wanneer die binneverhoor afgehandel en uitspraak oor die toelaatbaarheid van die bewysstukke gelewer word, sal die hoofverhoor weer hervat.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!