Ernst Lichtenstrasser is weer op ˊn eetstaking. Foto argief/Kristien Kruger
Ernst Lichtenstrasser is weer op ˊn eetstaking. Foto argief/Kristien Kruger

Lichtenstrasser weer op ’n eetstaking

Iréne-Mari van der Walt
Die kommissaris-generaal van die Namibiese Korrektiewe Dienste, Raphael Hamunyela, het bevestig dat die veroordeelde moordenaar, Ernst Lichtenstrasser, ’n geskrewe kennisgewing gegee het van sy beplande eetstaking.

Hy dring glo daarop aan om in ’n aparte sel aangehou te word.

Hamunyela sê gevangenes word in aparte selle aangehou indien hulle studeer, ’n aansteeklike siekte het of daar sekuriteitsprobleme is.

“Ons oorweeg nie sulke versoeke vir diegene wat dit net sommer wil hê nie,” het hy gesê.

Dit sal nie Lichtenstrasser se eerste eetstaking wees nie. Hy het in 2019 ook op ’n eetstaking gegaan ná hy in hegtenis geneem is in verband met die moorde op die Namibiese Instituut vir Mynbou en Tegnologie (Nimt) se uitvoerende direkteur, Eckhart Mueller, en sy adjunk, Heimo Hellwig op Arandis. Hy het destyds glo gevoel hy is onregmatig aangehou.

Sy verhoor was geskeduleer om gister te hervat, maar hy het egter gister gesê hy kan nie voortgaan nie weens sy eetstaking en die feit dat hy regshulp geweier is.

Hy het glo reeds op 1 Maart met sy eetstaking begin.

Lichtenstrasser is ook sonder ’n regsverteenwoordiger gelaat nadat hy sy vorige prokureur, Albert Titus, opdrag gegee het om homself aan die saak te onttrek ná sy skuldigbevinding.

Lichtenstrasser, wat homself tydens die verrigtinge ná sy skuldigbevinding verteenwoordig het, het aan regter Christie Liebenberg verduidelik dat hy op 15 Januarie aansoek gedoen het om regshulp en weer op 4 Maart ’n opvolgbrief gestuur het. Hy het op 7 Maart ’n brief van die direktoraat van regshulp ontvang om hom in kennis te stel dat sy aansoek afgekeur is.

Lichtenstrasser het ook gevra dat Liebenberg homself van ’n aansoek onttrek wat hy wou bring om ’n spesiale inskrywing by die rekord in te sluit.

“Hierdie hof se gedrag het ’n redelik vermoede geskep dat die hof gunstig gesind is teenoor die staat se saak,” het Lichtenstrasser gesê.

Hy het egter nie gevra dat Liebenberg hom geheel en al van die saak onttrek nie, maar eis slegs dat ’n ander regter hierdie aansoek aanhoor.

Liebenberg het voorgestel dat hy die aansoek ná sy vonnisoplegging bring, aangesien die partye nog net mondelingse argumente moet lewer voor ’n datum vir vonnisoplegging vasgestel kan word.

“Dit het geensins ’n invloed op die verhoor nie,” het Liebenberg gesê.

Met betrekking tot Lichtenstrasser se eetstaking, het Liebenberg beveel dat ’n mediese kenner, wat by die korrektiewe dienste werk, hom ondersoek en vandag oor sy mediese toestand getuig en of hy wel medies geskik is om verhoor te word.

Lichtenstrasser het die hof ingelig dat hy van plan is om ’n petisie aan die hoofregter te rig aangesien Liebenberg nie ten gunste van sy spesiale aansoek beslis het nie. Hy het ook gesê dat hy teen die beslissing wil appelleer om hom regshulp te weier.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!