111391
111391

Lichtenstrasser wou glo nie verplaas word

Kry geen mediese rekords, sê staat
Die staatsaanklaer het tydens haar kruisondervraging aangevoer dat die beskuldigde nie sy mediese kwale – wat glo sy verplasing na Keetmanshoop vertraag het – kan bewys nie.
Iréne-Mari van der Walt
Die staatsaanklaer Antonia Verhoef het verlede week tydens Ernst Lichtenstrasser se kruisondervraging klem gelê op sy verplasing vanaf die Namibië Instituut van Mynbou en Tegnologie (Nimt) se kampus op Tsumeb na sy kampus op Keetmanshoop.

Lichtenstrasser staan tereg op die moorde van Nimt se direkteur, Eckhart Mueller, en sy adjunk, Heimo Hellwig, in 2019 op die Arandis-kampus.

Hy sou in Maart 2019 by die Keetmanshoop-kampus vir werk aanmeld. Dit ingevolge ’n raadsbesluit, maar het glo weens gesondheidskwessies in April – ná siekverlof van ongeveer ’n maand – weer by die Tsumeb-kampus aangemeld.

“Ek het mnr. [Jan] Annandale in kennis gestel dat ek tot die 15de moes bly vir ’n opvolgbesoek, maar dit was nie die enigste rede nie. Ek het toe reeds die kwessie van die verplasingskostes uitgelig,” het hy aan die hof gesê.

Verhoef het aangevoer ’n gebrek aan bewyse dui daarop dat Lichtenstrasser nooit aan gesondheidskwale gely het nie. Sy het aan Lichtenstrasser gestel dat hy op die dag van ’n belangrike mediese afspraak in die woestyn was.

Hy het gesê hy was dié dag op verlof en het nie gedink dit sou ’n probleem wees as hy ’n dag later vir die elektrokardiogram (EKG) sou gaan nie.

“Jou gedrag toon agterlosigheid. Gebaseer op jou gedrag, glo die staat daar was nooit ’n mediese afspraak nie,” het Verhoef aan Lichtenstrasser gesê.

Sy het aan die hof gesê daar is geen mediese of enige ander rekords van Lichtenstrasser se dokter wat sy weergawe van gebeure staaf nie.

Verhoef het ook gesê dat Lichtenstrasser meer van sy werkgewer verwag het as wat sy werkskontrak gestipuleer het. Hy het onder meer glo ’n brandstoftoelaag geëis, terwyl sy kontrak gestipuleer het dat Nimt slegs die verhuisingskoste sou dek.

Hy het gesê vorige Nimt-werknemers het dié voordele ontvang en dat hy juis daarom gevoel het hy is ook geregtig daarop.

Verhoef het Vrydag aangevoer dat Lichtenstrasser die dag waarop hy by die Keetmanshoop-kampus moes aanmeld in die woestyn was en die staat dus aanvoer dat hy nie van plan was om na Keetmanshoop te gaan nie.

Lichtenstrasser het gesê hy wou Mueller die Maandag ná die moorde vertroulik nader, in ’n poging om die finansiële implikasies te bespreek.

Hy kon glo nie vir Mueller kontak nie aangesien sy selfoon dié Sondag tydens ’n argument met sy vrou gebreek het.

Regter Christie Liebenberg het aan Lichtenstrasser gevra hoekom hy nie na Mueller gery het om met hom te praat nie, aangesien hy na bewering in die omgewing was. Hy het geantwoord dat hy nie die moontlikheid oorweeg het nie.

BEKENTENIS

Lichtenstrasser het ook verlede week in die getuiebank aangevoer dat hy onder moeilike omstandighede skuld erken het.

Hy het getuig hy het geglo die skulderkenning was net “voorlopig” en dat hy na aanduiding van inspekteur Lodewyk van Graan se instruksies gedink het hy sou ’n meer amptelike skulderkenning voor ’n landdros maak.

Lichtenstrasser beskryf in dié opname dat hy vir Mueller by die Arandis-afdraai gewag het, maar dat hy in twee geskeur was.

“Dit was asof daar twee kante van my was. Ek het myself die heeltyd afgevra of hierdie die moeite werd is. Die een kant het gesê ek moet net met hom [Mueller] praat, en die ander kant het hulle as vyande bestempel.”

Die verhoor hervat op 24 April met Lichtenstrasser wat nog onder kruisondervraging is.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!