Die Regsvereniging van Namibië het reeds op 20 Maart 2019 ’n saak van minagting van ’n interdik, asook minagting van die hof teen Alex Kamwi aanhangig gemaak. Foto Argief
Die Regsvereniging van Namibië het reeds op 20 Maart 2019 ’n saak van minagting van ’n interdik, asook minagting van die hof teen Alex Kamwi aanhangig gemaak. Foto Argief

Ligte straf vir kastige prokureur

Ontvang boete van N$800
'n Man wat reeds in 2005 'n interdik teen hom ontvang het omrede hy homself as 'n gekwalifiseerde regspraktisyn voorgedoen het, is skuldig aan minagting van die hof bevind.
Kristien Kruger
Die Regsvereniging van Namibië (LSN) se saak wat hulle teen ’n man aanhangig gemaak het wat hom jare lank as ’n regspraktisyn en regsassistent voorgedoen het, het vandeesweek ten einde geloop.

Die LSN het reeds in 2004 en 2005 strafregtelike klagte teen Alex Kamwi aanhangig gemaak nadat talle klagtes van sy onwettige bedrywighede ontvang is.

In Maart 2005 het die LSN daarin geslaag om ’n interdik teen Kamwi te verkry wat vereis het dat hy homself nie meer as ’n regspraktisyn mag voordoen nie. Die inderdik het hom ook belet om van name en titels gebruik te maak wat insinueer dat hy ’n regspraktisyn of regsassistent is.

Die LSN het op 20 Maart 2019 ’n saak van minagting van dié hofbevel, asook minagting van die hof teen Kamwi aanhangig gemaak.

Dit volg nadat die LSN glo ’n formele klag ontvang het van een van Kamwi se kliënte wat beweer het dat hy hom in Mei 2018 as ’n regspraktisyn voorgedoen en haar vir regsdienste van N$15 000 gekwoteer het.

Die LSN het glo ook op advertensies van “Kamwi Legal Adviser Incorporated” afgekom waarin Kamwi homself as ’n regspraktisyn identifiseer en mense nooi om hom vir regsadvies en -verteenwoordiging te kontak.

Sy Facebook-profiel noem ook dat hy ’n prokureur by Kamwi Legal Adviser Incorporated is.

“Dit is duidelik dat die respondent [Kamwi] ten spyte van die bevel gedateer 9 Maart 2005, steeds opsetlik versuim of weier om aan dié bevel te voldoen.

“Sy optrede is minagtend en doen afbreuk aan die hof se waardigheid en regspleging,” het die LSN in hul hofstukke gestel wat by die hoërhof in Windhoek ingedien is.

Kamwi het in pleitstukke aangevoer die betrokke hofbevel en interdik is deur ander besluite van die hooggeregshof en hoërhof opgehef.

Die LSN was suksesvol in hul aansoek van minagting en die hof het Kamwi reeds op 21 Julie 2020 skuldig bevind.

Ná Kamwi se skuldigbevinding het die saak vir amper twee jaar gesloer totdat hy vandeesweek sy vonnis ontvang het.

Kamwi is Dinsdag tot N$800 of twee maande tronkstraf gevonnis. Daarbenewens word hy tot ses maande tronkstraf gevonnis wat vir vyf jaar opgeskort is op voorwaarde dat hy nie skuldig bevind word aan minagting van die hof gedurende dié tydperk nie.

Regter Kobus Miller het ook beslis Kamwi moet die koste van die aansoek betaal. Die saak is gefinaliseer en van die rol geskrap.

VIER MISLUKTE POGINGS

Kamwi het reeds vier keer probeer om as ’n prokureur toegelaat te word, maar het tot dusver gefaal.

Regter Hosea Angula het in Januarie 2016 bevind dat Kamwi nie aan die voorwaardes voldoen nie en het die aansoek van die hand gewys.

“Alhoewel hy beweer dat hy die ekwivalente kwalifikasies in die regte van 'n universiteit of vergelykbare opvoedkundige instelling buite Namibië verwerf het, is hy steeds verplig om 'n kursus van een jaar aan die Universiteit van Namibië te voltooi en hy sal steeds deur die universiteit gesertifiseer moet word om te bewys dat hy al die eksamens geslaag en aan alle vereistes voldoen het.”

Regter Thomas Masuku het Kamwi in 2020 gewaarsku as hy nog 'n aansoek op “onbetroubare gronde” rig, hy heel moontlik met die hof se “misnoeë” sowel as ’n kostebevel gekonfronteer sou word.

‘GEVAAR VIR DIE PUBLIEK’

Die LSN het beweer dat Kamwi 'n gevaar vir die publiek is.

“Hy laat die publiek glo dat hulle met 'n gekwalifiseerde regspraktisyn te doen het, terwyl hy nie die nodige kwalifikasies en ondervinding het nie.

Kamwi het in pleitstukke ontken dat hy en sy werksaamhede ’n gevaar vir die publiek inhou.

“Ek ontken dit en voer aan mense wat 'n gevaar vir die publiek inhou, is nie ek en my praktyk nie, maar eerder die lede van die applikant [LSN] wat óf lede van die publiek bedrieg óf hulself korrupteer.

“Die boeke oor regsopleiding wat ek daagliks lees, stel my bloot aan die jongste verwikkelinge op die regsgebied,” het Kamwi in sy hofstukke beweer. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!