Likwidateurs sleep polisiehoof hof toe
Eis meer as N$14 miljoen se diamante
Kristien Kruger
Twee likwidateurs beweer die inspekteur-generaal van die Namibiese polisie en die eenheid vir beskermde hulpbronne is onwettiglik in die besit van diamante ter waarde van meer as N$14 miljoen.
Mnre. David Bruni en Ian McLaren het in Februarie vanjaar die inspekteur-generaal en die ministerie van veiligheid en sekuriteit hof toe gesleep omdat hulle glo weier om diamante van 2 700,45 karaat, waarop hulle glo geregtig is, te oorhandig.
AGTERGROND
Die maatskappy Bret Investments is in November 2008 gelikwideer en in Maart 2010 het die hof Bruni en McLaren as die likwidateurs aangestel.
Kort hierna was Bret Investments in ’n hofgeding met ’n sekere mnr. Jacob Abramczyk betrokke wat in Junie 2018 afgehandel is.
Hiertydens is die diamante in die besit van die inspekteur-generaal se eenheid vir beskermde hulpbronne vir die bewaring daarvan geplaas.
“Hulle het ’n plig gehad om dit te bewaar en aan die applikante [Bruni en McLaren] terug te gee by die afhandeling van die bogenoemde saak en onderhewig daaraan dat die applikante die vereiste statutêre permit verkry,” lui die eisbesonderhede.
Volgens die stukke het die ministerie van myne en energie op 19 Junie 2018 goedgekeur dat die diamant-kommissaris, ingevolge die Wet op Diamante 13 van 1999, die gepaste permit aan Bruni en McLaren kan uitreik.
Die geldigheid van die permit het op 18 Januarie 2019 verstryk.
“Die eerste verweerder [inspekteur-generaal] het onregmatig versuim en/of geweier om die diamante, waarop die applikante geregtig was, te oorhandig. Die eerste verweerder het die applikante onregmatig gefrustreer in die uitvoering van hul mandaat as likwidateurs.”
EISE
Bruni en McLaren eis dat die hof die inspekteur-generaal se weiering om die diamante te oorhandig, onwettig verklaar en beveel dat dit aan hulle oorhandig word.
“Indien die verweerder nie meer in besit van die diamante is nie, moet die eerste verweerder beveel word om N$14 miljoen aan die applikante te betaal.”
STAAN SAAK TEEN
Die verweerders het op 21 Julie die kennisgewing van hul voorneme om die saak teen te staan ingedien en moet voor 23 September hulle pleitstukke indien.
Partye het Donderdag in die hoërhof in Windhoek verskyn vir voorverhoorverrigtinge.
Die ander partye wat as verweerders in die saak gelys is, is die ministerie van myne en energie die diamant-kommissaris en die meester van die hoërhof.– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie