Likwidateurs steeds in hoftwis oor diamante
Saak nader verhoor
Die diamante ter waarde van N$14 miljoen is steeds in die polisie se besit.
Die saak wat twee bekende Windhoekse likwidateurs teen die inspekteur-generaal van die Namibiese polisie (Nampol) aanhangig gemaak het rakende ongeslypte diamante ter waarde van sowat N$14 miljoen, se verhoor is eersdaags.
Die likwidateurs, David Bruni en Ian McLaren, beweer hulle is geregtig op die 2 700,45 karaat diamante as die likwidateurs van Bret Investments (Edms.) Bpk en dat die polisie onregmatig met die oorhandiging van die diamante sloer en daardeur na bewering die uitvoering van hul mandaat as likwidateurs kniehalter.
“Die eerste verweerder [inspekteur-generaal] het geen wettige grondslag om voort te gaan om die diamante te hou nie,” het McLaren in ’n verklaring aangevoer.
Die polisie beweer die diamante is gekonfiskeer ingevolge ’n oortreding van die diamantwet aangesien dit sonder die magtiging van die ministerie van myne en energie verkoop is en dat die likwidateurs op grond daarvan nie sal slaag in hulle saak nie.
“Die diamante vorm deel van strafregtelike verrigtinge wat nog nie voltooi is nie en kan nie oorhandig word voordat dié verrigtinge nie afgehandel is nie,” het die adjunkbevelvoerder in die kantoor van die inspekteur-generaal, Allen Bwendo, in ’n verklaring gesê.
Die saak is tot 7 Desember uitgestel vir voorverhoorverrigtinge in die hoërhof in Windhoek. Die ander verweerders in die saak, sluit in die minister van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit, die minister van myne en energie en die diamantkommissaris.
GETUIENIS
Volgens Bwendo se verklaring, wat verlede week by die hof ingedien is, beplan die verweerders om tydens die verhoor slegs een getuie te roep – Bartholomeus Alfeus de Klerk.
De Klerk is in diens van Nampol as ’n adjunkkommissaris by die afdeling vir beskermde hulpbronne en is die hoofondersoekbeampte in die strafregtelike klagte met betrekking tot die beweerde oortredings van die diamantwet.
“Dit blyk dat twee individue, naamlik Michael Francois van der Merwe van Bret Investments en Jacob Abramcsyk, ’n onwettige diamanttransaksie aangegaan het wat teenstrydig met die diamantwet is,” stel De Klerk in ’n verklaring wat op 15 November by die hof ingedien is.
Hy voer verder aan dat luidens ’n verklaring in die dossier van Van der Merwe, het hy glo dié beweerde onwettige transaksie bevestig.
“Om diamante te verkoop word deur die diamantwet beheer en slegs ’n persoon wat deur die wet gemagtig is, kan dit verkoop. In hierdie geval is Artikel 31 van die Diamantwet oortree aangesien ’n ongemagtigde persoon diamante verkoop het.”
Volgens sy verklaring is die diamante by die polisie as bewysstukke ingeboek en word dit glo onder die veilige bewaring van die beskermde hulpbronne-afdeling van die polisie gehou.
AGTERGROND
In 2008 het Bret Investments (Pty) Ltd ingevolge ’n hoërhofbevel likwidasie in die gesig gestaar en in 2010 is McLaren en Bruni as gesamentlike likwidateurs aangewys.
Die diamante is ingevolge ’n hofbevel onder die toesig van die polisie se eenheid vir beskermde hulpbronne geplaas totdat die regskwessie afgehandel is.
As deel van die skikking in Julie 2018 het die minister van myne en energie na bewering die groen lig aan McLaren en Bruni gegee om permitte van die diamantkommissaris te ontvang wat hulle toelaat om die diamante weer in besit te neem.
Hul pogings om die diamante terug te kry, is na bewering met weerstand begroet en ten spyte van die likwidateurs se wetlike aanspraak op die diamante, weier die inspekteur-generaal glo om dit te oorhandig.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie