Die minister van myne en energie, Tom Alweendo.
Foto argief
Die minister van myne en energie, Tom Alweendo. Foto argief

Litiumgeveg draai in hof

Bedrywighede by Omaruru net tot 31 Mei geldig
Minister Tom Alweendo het Xinfeng Investments op 28 April ingelig dat sy lisensie herroep word.
Augetto Graig
Die Chinese litiummynbouer Xinfeng Investments se prokureur, Nambili Mhata, het Maandag ʼn dringende aansoek voor die hoërhof gebring om die minister van myne en energie, Tom Alweendo, se herroeping van mynboulisensie 243 buite Omaruru tersyde te stel.

Die partye sal volgens die hof se aanlyn stelsel hul eerste verskyning op 23 Mei voor regter Ramon Maasdorp maak.

Die balju het Maandag die dagvaarding aan die minister; die mynboukommissaris, Isabella Kandjii-Chirchir; en omgewingskommissaris, Timoteus Mufeti, bedien.

Xinfeng daag die minister se reg uit om sy mynboulisensie te herroep en vra dat die hof die besluit tersyde stel totdat uitspraak gelewer word.

Alweendo het die myn tot 31 Mei kans gegun om alle mynboubedrywighede te staak.

In die funderende beëdigde verklaring wat Xinfeng se direkteur, Likulano Sauiyele January, ingedien het, verwys hy na ’n reeks kennisgewings. In dié kennisgewings wat die onderneming sedert Oktober 2022 van Alweendo ontvang het, het die minister gedreig om Xinfeng se mynboulisensie terug te trek.

Die lisensie is oorspronklik op 6 September 2022 toegestaan.

Alweendo het op 26 Oktober sy kommer oor die grootmaat uitvoer van litiumerts uitgespreek, hoewel hy op 1 November die aftog geblaas het nadat Xinfeng geldige vervoer- en uitvoerpermitte kon toon.

Die minister het egter volgehou dat slegs litiumkonsentraat uitgevoer mag word. Nogtans is die permit (nommer 38682) om erts vanaf die myn te vervoer toe teruggetrek.

Xinfeng het van die begin af belowe om ’n litium-verwerkingsaanleg te laat bou en sou in April vanjaar daarmee begin.

Xinfeng het die ertsuitvoere vir navorsing rakende die ontwikkeling van die aanleg gebruik, en vir kontantvloei om die mynbedrywighede te finansier.

Alweendo het glo op 8 Desember opnuut gedreig om die lisensie op te skort aangesien Xinfeng se aanvanklike tegniese verslag na bewering misleidend en vals was.

Inligting wat aan die raadgewende komitee vir minerale lisensies verskaf is, was onder andere glo ’n afdruk van ’n tegniese verslag uit Nevada in Amerika en van Desert Lion Energy se tegniese verslag vir sy litiumprojek buite Karibib.

Die mynbouer het die aantygings op 4 Januarie vanjaar ontken en volgehou dat die toekenning van die lisensie omvattend en geldig was.

Xinfeng het uitgelig dat die Wet op Minerale no. 33 van 1992 nie die minister die reg gee om sy mynboulisensie om hierdie redes te kanselleer nie.

In ’n derde kennisgewing gedateer 16 Februarie het Alweendo vir Xinfeng kennis gegee dat hy die lisensie sal herroep tensy die mynbouer ongerymdhede kan opklaar en dat hy nie daarvoor op die mineralewet hoef te steun nie.

Xinfeng dring op hul onskuld aan en het voorgestel om eers ’n ontsoutingsaanleg te laat bou om water aan die aanleg te voorsien.

Ten spyte van ’n vergadering op 28 Maart tussen Alweendo en Xinfeng se bestuur, het die minister op 28 April die mynbouer ingelig dat sy lisensie herroep word.

Die mynbouer sê hy het reeds sowat N$800 miljoen in die Omaruru-litiumprojek belê; N$600 miljoen vir die ontwikkeling van die myn insluitend N$500 miljoen vir mynboutoerusting; N$30 miljoen aan bedryfskoste; en N$25 miljoen vir BTW-oorbetalings.

Nog N$2 miljoen is bestee aan konsultasies vir die ontwerp van die aanleg; N$250 000 aan Omaruru se dorpsraad; en N$300 000 vir die ministerie om sy aanlyn landkaartstelsel op te knap.

Boonop sal 156 permanente en 150 tydelike werknemers hul werk verloor terwyl die opskorting van mynbedrywighede by die oopgroefmyn omgewingsgevare sou meebring, volgens January. Verliese weens die opskorting van bedrywighede sal nooit kan verhaal word nie, dring hy aan.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!