LPM-leiers vat Speaker wéér hof toe

Hofaansoek om hersiening
Die LPM-parlementslede, mnre. Bernadus Swartbooi en Henny Seibeb, wil hê die Nasionale Vergadering se besluit om hul gedrag te ondersoek, moet hersien en tersyde gestel word.
Kristien Kruger
Die parlementslede van die Landless People’s Movement (LPM), mnre. Bernadus Swartbooi en Henny Seibeb, het in Desember verlede jaar nog ’n saak teen die Speaker by die hoërhof in Windhoek aanhangig gemaak.

Dit volg nadat die hooggeregshof in Augustus verlede jaar in die guns van dié duo beslis het in hul appèlsaak teen die Speaker om wel verrigtinge in die Nasionale Vergadering (NV) by te woon.

Die nuwe saak is ’n aansoek om hersiening en tersydestelling van die NV, die parlementêre staande komitee oor reëls en orde en die parlementêre staande komitee oor voorregte se besluit om die gedrag van Swartbooi en Seibeb te ondersoek wat moontlik dissiplinêre gevolge kan dra.

Die gedrag waarna verwys word is die voorval tydens president Hage Geingob se jaarlikse staatsrede op 15 April 2021 waartydens Katjavivi, Swartbooi en Seibeb beveel is om die NV te verlaat weens talle ontwrigtings.

Die LPM, Swartbooi en Seibeb dring daarop aan dat die NV se besluit op 21 April 2021 om die saak na die staande komitee oor voorregte te verwys, asook dié komitee se besluit om die LPM-leiers se gedrag te ondersoek, hersien moet word.

Hulle eis verder dat alle vergaderings en besluite wat die komitee geneem het aangaande die besluit om hul gedrag te ondersoek en die NV se besluit om ’n verslag van die komitee te aanvaar, hersien en tersyde gestel word.

Hulle beweer die bogenoemde besluite en optredes is ongrondwetlik en moet nietig verklaar word.

NV-REËLS ONDER LOEP

In hul beëdigde verklaring beweer hulle ook dat sommige van die statutêre bepalings, reëls en beslissings onwettig en ongrondwetlik is en daarom nietig verklaar moet word.

Hulle verwys spesifiek na die bepalings van Reël 111 van die NV en die ad hoc-reëls wat op 18 Mei 2021 deur die voorregtekomitee gemaak is.

“Asook die bepalings wat poog om toegang tot howe te beperk om te bepaal of optrede en besluite van die Nasionale Vergadering en sy komitees ingevolge die bepalings van die Grondwet is. Veral met betrekking tot artikels 1, 5, 12, 17, 18, 22, 45 en 46,” lui hul beëdigde verklaring.

Die repondente in die saak is die Speaker, die prokureur-generaal, die regering en die president van die PDM, mnr. McHenry Venaani.

Die respondente het reeds aangedui dat hulle die saak sal teenstaan en partye het gister (Dinsdag) in die hof vir voorverhoorverrigtinge verskyn.

SUKSESVOLLE APPèLSAAK

Ná die voorval verlede jaar in April het Swartbooi en Seibeb ’n dringende aansoek by die hoërhof ingedien en ’n bevel versoek wat die Speaker se optrede as onwettig verklaar.

Hulle het ook ’n tussentydse interdik versoek wat die Speaker weerhou om in te meng met hul regte as lede van die NV om hul parlementêre pligte na te kom en die parlement by te woon.

Die Speaker het aangevoer die ongekende aard van die ontwrigting en die vooruitsig van verdere ontwrigtings het aanleiding gegee tot ’n situasie waarvoor die NV se reëls nie voorsiening maak nie.

Hy was dus geregtig om op reël 124(a) te steun en lede van die parlement te skors hangende die afhandeling van dissiplinêre prosedures.

Swartbooi en Seibeb het aanvanklik in hul aansoek in die hoërhof misluk, maar het daarna suksesvol teen dié uitspraak in die hooggeregshof geappelleer.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!