Die LPM het 'n aansoek van nietigverklaring van 'n verstekvonnis by die hoërhof in Windhoek ingedien. Foto Argief
Die LPM het 'n aansoek van nietigverklaring van 'n verstekvonnis by die hoërhof in Windhoek ingedien. Foto Argief

LPM loop bloutjie in die hoërhof

Aansoek met koste van die hand gewys
Die hofbevel vir die heraanstelling van twee LPM-lede as raadslede van die Mariental-dorpsraad, wat dié party uitgedaag het, bly onveranderd.
Kristien Kruger
Die Landless People’s Movement (LPM) se aansoek by die hoërhof vir die nietigverklaring van ’n verstekvonnis ten gunste van twee partylede en voormalige raadslede van die Mariental-stadsraad, is Vrydag van die hand gewys.

In die siviele saak het mnr. Daniel Gariseb en me. Rogetha Haack die LPM hof toe gesleep nadat hulle in Maart 2021 as raadslede onttrek is.

Gariseb en Haack het beweer die besluit het nie regverdige prosesse gevolg nie.

“Ons ontken dat ons ooit die geleentheid gegun is om aangehoor te word en die redes vir ons onttrekking was nooit aan ons gekommunikeer nie,” lui hofstukke.

Twee nuwe raadslede is volgens Gariseb, slegs agt werksdae ná hul onttrekking beëdig.

Gariseb en Haack het geëis hul onttrekking moet herroep word, die twee nuwe raadslede se inswering moet tersyde gestel word en hulle moet weer as raadslede heraangestel word.

Die duo het hul beëdigde verklarings op 29 April 2021 by die hoërhof in Windhoek ingedien.

Die LPM het ’n kennisgewing van hul voorneme ingedien om die saak te verdedig, maar het nie betyds hul beantwoordende beëdigde verklaring ingedien nie.

Gariseb en Haack het hierna aansoek om ’n verstekvonnis gedoen.

’n Verstekvonnis is 'n vonnis ten gunste van ’n party gebaseer op die ander party se versuim om op te tree.

Regter Hosea Angula het dié aansoek op 24 September toegestaan.

Die LPM het daarna aansoek gedoen vir die verstekvonnis om herroep te word. Hul aansoek was gebaseer op die feit dat die verstekvonnis na bewering verkeerdelik in hul afwesigheid toegestaan is.

UITSPRAAK

Regter Hannelie Prinsloo het Vrydag die LPM se aansoek vir die nietigverklaring van die verstekvonnis met koste van die hand gewys.

“Daar is niks voor hierdie hof wat voorstel dat die vonnis verkeerdelik aangevra of verkeerdelik toegestaan is nie. Op papier is daar geen rede waarom regter Angula verhinder sou wees om die vonnis toe te staan nie.

“Die applikante [LPM] kan gevolglik nie geslaag in 'n aansoek om die hofbevel van 24 September te herroep nie,” lui Prinsloo se uitspraak.

Die saak is gefinaliseer en van die rol geskrap.

Die LPM was slegs een van die 11 respondente in die saak. Die ander partye was onder meer die LPM se operasionele sekretaris, die politieke aksiekomitee en sy voorsitter; die Mariental-stadsraad, asook sy voorsitter en uitvoerendehoof; die minister van stedelike en landelike ontwikkeling; die burgemeester van Mariental en die twee nuutverkose raadslede. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer