LSN neem firma se rekeninge oor
Tydelike interdik toegestaan
Twee van Leandri Lambert Legal Practitioners se trustrekeninge is nou onder die beheer van die LSN.
Die Regsvereniging van Namibië (LSN) het verlede week ’n dringende aansoek teen ’n Windhoekse regspraktisyn gebring.
’n Tydelike interdik is aan die vereniging toegestaan om beheer van Leandri Lambert se regsfirma se trustrekeninge oor te neem.
Lambert is ook ingevolge ’n hofbevel tydelik verbied om op enige manier met haar firma se twee trustrekeninge te werk hangende die uitkoms van aanklagte teen haar by die dissiplinêre komitee vir regspraktisyns.
Die beheer en administrasie van die rekeninge is tydelik aan die direkteur van die LSN, Neliswa Tjahikika, oorhandig.
Die bevel tree onmiddellik in werking en sal vir ’n tydperk van 60 dae duur om die LSN geleentheid te gee om Lambert se sake te ondersoek.
Regter Eileen Rakow het Donderdag die hofbevel in die hoërhof in Windhoek uitgereik.
AGTERGROND
Volgens Tjahikika se verklaring wat as deel van die dringende aansoek by die hof ingedien is, spruit die aansoek uit ’n inspeksie by Lambert se firma in Julie 2024.
Die nakomingsbestuurder van die LSN, Abed Shipoke, het die inspeksie uitgevoer en agtergekom dat Lambert ’n aansienlike tekort in haar trustrekeninge het.
Die LSN het haar gevolglik versoek om volledige rekeningboeke in te dien wat op ’n tekort van sowat N$4,3 miljoen in die twee trustrekeninge gedui het.
Die LSN het ’n vergadering op 24 Julie 2024 met Lambert gehou.
“Die vergadering was om te verstaan wat die aansienlike tekort op die trustrekeninge veroorsaak het en om te besluit oor die pad vorentoe om die tekort reg te stel,” lui Tjahikika se verklaring.
Lambert het kort daarna in ’n beëdigde verklaring die tekort bevestig, maar slegs ten bedrae van sowat N$3,9 miljoen. Sy het ook aangedui dat sy die redes vir die tekort op 2 Augustus 2024 sal kan verduidelik.
“Die LSN het ’n besluit geneem tot die effek dat die eerste respondent [Lambert] bedrywighede by haar praktyk moet staak ten einde die aansienlike tekort reg te stel.”
Op 8 Augustus het Lambert bankrekeningstate vir een van die rekeninge soos op 8 Augustus 2024 verskaf
“In hierdie state was ’n transaksie deur die eerste respondent [Lambert] wat ’n deposito van N$2 300 000 gemaak het om die tekort te verminder.
“Verdere bankstate van die bank is egter in Januarie 2025 ontvang. Dit dui daarop dat op 12 Augustus dieselfde bedrag weer onttrek is.”
‘PERSOONLIKE UITGAWES’
Lambert het ook in Augustus glo gereël dat ’n oudit op die rekeningboeke van die firma uitgevoer word en die ouditeure CR van Wyk & Co is aangewys om die proses te behartig.
Die oudit sou die tydperk vanaf die stigting van die firma op 23 Februarie 2022 tot 31 Augustus 2024 dek. Dié ouditverslag is op 22 November ingedien en kommerwekkende bevindings is daarin gemaak.
“Die bevindings op die verslag hou verband met die gebruik van trustgeld vir persoonlike uitgawes in die jaar 2022. Die verslag het voorts betalings in die jaar 2023 en 2024 aangeteken van uitgawes wat nie met trustkrediteure verband hou nie.
“Net so is betalings in 2024 gemaak wat nie aan trustkrediteure toegewys kon word nie,” lui Tjahikika se verklaring.
Die LSN het daarna weer ’n verklaring van Lambert versoek om die bevindings te verduidelik.
“Die verduideliking in daardie beëdigde verklaring was op geen manier voldoende nie.”
Die LSN het aan die begin van die jaar nie vir Lambert ’n getrouheidsfondssertifikaat uitgereik nie, waarsonder sy nie geregtig is om te praktiseer nie.
“Op 6 Februarie 2025 het dit onder my aandag gekom dat [Lambert] kliënte versoek het om die bedrag van nagenoeg N$50 000 in die trustrekening in te betaal.
“Ek voer aan dat dit aangedui het dat sy steeds fondse van die publiek ontvang en die voorneme het om transaksies op haar trustrekening te doen ten spyte daarvan dat sy nie in besit is van ’n getrouheidsfondssertifikaat nie,” het Tjahikika in haar verklaring verduidelik.
DRINGEND
Tjahikika het in haar verklaring aangevoer dat die saak dringend is aangesien die LSN die publiek se belange wil beskerm.
“My ingryping as kurator bonis sal ook tot voordeel van die eerste respondent [Lambert] wees. Sy staan die kans om fooie te verloor as gevolg van die vertraging of moontlike kansellasie van transaksies.
“Verder kan die skade wat aan kliënte aangerig is deur die vertraging en selfs moontlike kansellasies van transaksies, lei tot eise vir skadevergoeding teen die eerste respondent, asook teen die derde respondent, die getrouheidsfonds vir regspraktisyns,” het Tjahikika gesê.
Die aansoek is op ’n dringende basis aangehoor en is Donderdag tot 11 April uitgestel.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie