• Tuisblad
  • Howe
  • Ma bly agter tralies ná sy glo baba vermoor
Die hoërhof in Windhoek Foto Kristien Kruger
Die hoërhof in Windhoek Foto Kristien Kruger

Ma bly agter tralies ná sy glo baba vermoor

Verdagte is borgtog geweier
'n Vrou wat na bewering haar baba vermoor en seun verwurg het terwyl sy glo onder die invloed van kokaïen was, se appèlaansoek is Maandag van die hand gewys.
Kristien Kruger
’n Vrou wat na bewering haar babadogter se dood veroorsaak het deur haar kop verskeie kere teen ’n deur te slaan en daarna glo haar sewejarige seun probeer verwurg het, het gefaal in haar appèl teen die weiering van borgtog.

Jennifer Shipanga was volgens die staat onder die invloed van kokaïen toe sy na bewering vroëer vanjaar dié misdrywe gepleeg het en staan nou tereg op een klag van moord, poging tot moord en aanranding met die opset om ernstig te beseer.

Sy het op 24 Junie ’n formele aansoek om borgtog in die Katutura-landdroshof gebring wat op 15 Julie deur landdros Olga Mutafel Likando van die hand gewys is.

Die hof het bevind dat haar dwelmgebruik haar onstabiel maak en sy ’n bedreiging vir haar twee oorblywende kinders en ouma is.

Shipanga het in Augustus ’n aansoek om appèl teen Likando se beslissing om haar borgtog te weier, by die hoërhof in Windhoek ingedien en regters Naomi Shivute en Dinnah Usiku het Maandag die appèl van die hand gewys.

GRUVOORVAL

Die hoofondersoekbeampte in die saak het in die landddroshof tydens die borgtogaansoek getuig en gesê dat Shipanga haar babadogter se kop minstens drie keer teen ’n houtdeur geslaan het wat tot haar dood gelei het.

Daarna het sy na bewering haar seun gewurg totdat hy bewusteloos op die vloer geval het. Die seun het die voorval oorleef.

Sy het toe glo haar ouma aangeval. Sy het haar na bewering met die vuis geslaan en haar op haar gesig en arms gebyt.

Die ouma het geskree en Shipanga se neef het dit glo gehoor en probeer help, maar die deur was gesluit. Hy het die ruit gebreek en die huis binnegekom.

Shipanga het tydens die aansoek om borgtog in die landdroshof ook die getuienisbank ingeneem en getuig dat sy in 2018 dwelms begin gebruik het.

Sy het gesê sy gebruik nie dwelms op ’n daaglikse basis nie en dat sy nooit haar kinders of enigiemand anders leed aangedoen het nie.

Sy het getuig dat sy die dag van die voorval kokaïen gerook het en haar ARV-medikasie geneem het sonder om iets te eet. Dit het haar glo paranoïes gemaak en sy het in ’n beswyming ingegaan en kan nie onthou wat gebeur het nie.

ARGUMENTE

Shipanga en haar regsverteenwoordiger het beweer daar is geen bewyse wat aandui dat sy onstabiel en nie bekwaam is om na haar kinders om te sien nie.

“Daar is geen bewyse dat die beskuldigde ooit voor hierdie voorval gewelddadig opgetree het nie,” word in hofstukke beweer.

Shipanga is bereid om van haar kinders en haar ouma weg te bly, as deel van haar borgtogvoorwaardes en het aangebied om N$1 500 te betaal.

“Die gewelddadige optrede het in die ouma se huis plaasgevind en sy het haar eie kinders aangeval waarvan een haar lewe verloor het. Die toestaan van borgtog sal nie in openbare belang wees nie, aangesien die lewe ten alle koste beskerm moet word en familie veronderstel is om veilig in hul huise te voel.”

“Die beskuldigde is ’n bedreiging vir die publiek en die handhawing van openbare orde,” het die staat beweer.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!