FOTO ARGIEF
FOTO ARGIEF

Ma eis ná stilgeboorte

Ervaar erge pyn, ongemak
Herhaaldelike versoeke vir 'n noodkeisersnee het dadels van gekom.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – ’n Vrou wie se baba stilgebore is nadat die baba – ten spyte van herhaaldelike versoeke vir ’n noodkeisersnee – na bewering in haar buik in onder meer ontlasting versmoor het, dagvaar die staat vir N$4 miljoen in skadevergoeding.

Yvonne Pollmann en haar man, Jacques, wat in Otjiwarongo woon, dagvaar die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, dr. Biti (voornaam onbekend) en dr. Felix Mutomba wat albei by die staatshospitaal op die dorp werk.

Pollmann is op 6 Maart verlede jaar in die hospitaal se kraamafdeling opgeneem, nadat sy volgehoue en ondraaglike pyn in haar buik en rug ervaar het. Die erge pyn het volgens haar verklaring voortgeduur vanaf haar opname omstreeks 18:00 die Sondag totdat sy die Dinsdag om 01:15 uiteindelik in die teater gestoot is.

Volgens Pollmann moes sy vir 12 ure wag voor ’n noodkeisersnee uitgevoer is en dit ten spyte van die erge pyn wat sy ervaar het.

Haar baba is glo ook tydens haar opname nooit gemonitor nie, geen sonar is glo gedoen nie, terwyl sy ook na bewering nie opdrag gegee is om nie te eet of vloeistowwe in te neem nie.

Tydens haar opname is glo ook geen bloedtoetse gedoen om haar bloedgroep te bepaal sodat bloed gereed sou wees vir ’n oortapping tydens ’n noodkeisersnee nie.

In ’n poging om haar in kraam te laat gaan en die proses te versnel, is Pollmann na bewering die Maandag omstreeks 17:20 Cytotec toegedien – oraal en vaginaal. Cytotec moes glo die kontraksies binne twee ure vermeerder. Sou dit nie gebeur nie, sou ’n noodkeisersnee uitgevoer word.

Volgens die verklaring was dit ’n buitensporige dosis van die vaginale Cytotec.

Die ondraaglike pyn wat Pollmann ervaar het, het na bewering daartoe gelei dat haar ongebore baba mekonium vrygestel het. Mekonium is ’n baba se eerste ontlasting, en is taai, dik en donkergroen en bestaan uit selle, proteïene, vette en dermafskeidings soos gal.

Die duur en frekwensie van Pollmann se kontraksies is glo nie gemonitor nie.

Weens die verlengde tydperk van die aanvanklike diagnose dat haar baba in nood was weens die vrystelling van mekonium totdat die noodkeisersnee uiteindelik uitgevoer is, is die baba stilgebore, sê Pollmann.

Volgens haar verklaring is geen noodbehandeling op haar baba toegepas nie en is die baba bloot as ’n stilgeboorte geregistreer.

Weens die uitgerekte kraamproses het haar baba versmoor en ernstige breinskade opgedoen, aldus haar verklaring.

Pollmann eis ’n miljoen elk vir emosionele skok en trauma, ongerief en ook toekomstige mediese uitgawes wat verband hou met sielkundige berading om die dood van haar baba te verwerk.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!