Hilda Tshekupe Iita
Hilda Tshekupe Iita

Ma kry 22 jaar ná sy pasgeborene vermoor

Moord in 2020 gepleeg
Toe haar seun een dag oud was, het sy hom brandspiritus gevoer, wat tot sy dood gelei het.
Yandi Du Plessis
Tuyeimo Haidula - Die vrou wat ’n jaar gelede in die hoërhof op Oshakati skuldig bevind is aan die moord op haar pasgebore seun, is Vrydag tot effektief 22 jaar tronkstraf gevonnis.

Regter Duard Kesslau wat Hilda Tshekupe Iita se vonnis opgelê het, het gesê sy is skuldig bevind op aanklagte van moord en poging tot dwarsboming van die gereg.

Hy het gesê Iita word tot 22 jaar tronkstraf gevonnis, waarvan drie jaar opgeskort word op voorwaarde dat die beskuldigde vir vyf jaar ná vrylating nie skuldig bevind word aan moord of strafbare manslag nie.

Op die tweede aanklag van poging tot dwarsboming van die gereg is Iita tot 12 maande gevangenisstraf gevonnis.

Kesslau het gelas dat die vonnis wat op die tweede aanklag opgelê is, samelopend met die vonnis op aanklag een uitgedien word.

DIE MOORD

Iita (28) het op 12 Maart 2020 geboorte geskenk aan ’n seun in die Oshakati-staatshospitaal en is op 13 Maart ontslaan.

Toe haar seun, Elia Andreas, een dag oud was, het sy vir hom brandspiritus gevoer, wat tot sy dood gelei het.

Sy het die vloeistof van die verpleegsters by die hospitaal ontvang om die baba se wonde skoon te maak.

In haar pleitverklaring, wat sy verlede jaar by die hof ingedien het, het Iita verduidelik nadat sy uit die hospitaal ontslaan is, het sy teruggekeer huis toe na die informele nedersetting Uupindi in Oshakati, waar sy gewoon het.

By die huis het sy probeer om haar pasgebore seun te borsvoed, maar kon glo geen melk produseer nie, en dit is toe dat sy besluit het om hom die brandspiritus in te gee.

Ná sy dood het Iita die baba se liggaam in ’n sak gesit, in ’n kombers toegedraai en na haar tuisdorp gereis. Sy het die oorskot in haar gesin se mahanguveld by Okeendapa in die Otamanzi-kiesafdeling in die Omusatistreek verbrand.

Hofrekords toon dat die lyk nie heeltemal verbrand het nie, en die beskuldigde het die oorskot in die mahanguveld gegooi.

GEEN ONDERSTEUNING OF HULP

Iita het getuig dat die biologiese pa van die baba vaderskap ontken het, dat sy nie melk kon produseer nie en dat sy nie in ’n finansiële posisie was om alternatiewe plaasvervangers vir borsmelk vir die baba te koop nie.

Sy het gesê sy het hulpeloos gevoel, aangesien sy geweet het haar ouers is werkloos en kon nie help nie. Dit het gelei tot haar besluit om die kind se lewe te beëindig.

Kesslau het gesê toe Iita die misdaad gepleeg het, was sy 26 jaar oud en het reeds twee minderjarige kinders van onderskeidelik agt en ses jaar oud gehad wat onder haar ma se sorg geplaas is.

Nadat die misdrywe gepleeg is, het die beskuldigde een jaar in aanhouding deurgebring voordat borgtog toegestaan is. Toe sy teruggekeer het na die hof om skuld te beken, was sy weer swanger en het in aanhouding gekraam.

Haar jongste kind is nege maande oud en is deur Iita in die tronk versorg, het Kesslau gesê.

BEROU

Die regter het gesê Iita se skulderkenning en “haar getuienis in die hof is duidelike aanduidings dat sy ware berou toon vir haar dade”.

Kesslau het gesê dit is egter in die belang van die samelewing, soos deur die staat aangevoer, dat Iita vir haar dade gestraf word. Hy het beklemtoon dat die slagoffer ’n dagoue baba en ’n lid van die samelewing was. Verder is die misdryf in ’n huishoudelike opset tussen ’n ma en kind gepleeg.

“Die voorkoms van die misdryf van moord en veral die moord op kwesbare babas is ’n aanduiding van ’n samelewing wat moreel bankrot is waar ouers versuim om hul verantwoordelikhede na te kom,” lui ’n deel van die uitspraak.

Petrus Grusshaber was Iita se regsverteenwoordiger en Martha Hasheela het as die staatsaanklaer opgetree.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-02-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 33° Rundu: 20° | 35° Eenhana: 21° | 36° Oshakati: 23° | 34° Ruacana: 18° | 36° Tsumeb: 21° | 35° Otjiwarongo: 19° | 34° Omaruru: 19° | 37° Windhoek: 20° | 33° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 17° | 21° Swakopmund: 17° | 19° Walvis Bay: 17° | 23° Rehoboth: 20° | 35° Mariental: 22° | 36° Keetmanshoop: 18° | 35° Aranos: 23° | 37° Lüderitz: 16° | 30° Ariamsvlei: 19° | 34° Oranjemund: 15° | 23° Luanda: 26° | 28° Gaborone: 23° | 36° Lubumbashi: 17° | 25° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 19° | 35° Antananarivo: 18° | 29° Lilongwe: 18° | 28° Maputo: 24° | 36° Windhoek: 20° | 33° Cape Town: 19° | 24° Durban: 23° | 30° Johannesburg: 21° | 32° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 17° | 28° Harare: 17° | 29° #REF! #REF!