• Tuisblad
  • Howe
  • Ma kry N$110 000 ná kind in hospitaal verwurg word
Foto argief
Foto argief

Ma kry N$110 000 ná kind in hospitaal verwurg word

Rita Kakelo
Die bedroefde ma van wyle Petrus Gaingob, wat in die Windhoek Sentrale Hospitaal se eenheid vir geestesgesondheid doodgewurg is, sal N$110 000 van die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste ontvang ná ’n skikkingsooreenkoms deur die twee partye onderteken is.

Die skikking kom nadat Mathilde Gaingos aanvanklik in Mei verlede jaar ’n regsgeding vir mediese nalatigheid van N$750 000 teen die ministerie aanhangig gemaak het.

Die ooreenkoms is bereik byna twee jaar nadat ’n medepasiënt haar destyds 30-jarige seun doodgewurg het.

Gaingob is in Augustus 2022 in die hospitaal se eenheid vir geestesgesondheid opgeneem en is in September 2022 dood nadat hy in ’n fisieke onderonsie met ’n medepasiënt betrokke geraak het terwyl hy in ’n isolasiekamer in dieselfde mediese eenheid was, lui die hofdokumente.

’n Nadoodse ondersoek het aan die lig gebring dat hy dood is weens versmoring weens verwurging.

Luidens hofaansoeke het die hospitaalpersoneel dit geregverdig om Gaingob in ’n isolasiekamer te plaas, aangesien hy na bewering gereeld weggehardloop of uit die hospitaal ontsnap het sonder om die personeel in kennis te stel.

Die nadoodse ondersoek wat deur dr. Soraya Podewiltz uitgevoer is, het verskeie klein kneusplekke aan die voorkant van sy nek gevind, asook bloeding op die brein, frakture aan beide kante van die basis van die skedel, bloedophopings in die nekspiere, insluitend die tongbeen (hyoid bone). Laasgenoemde is aan die voorkant van die nek geleë wat die tong ondersteun en speel ’n sleutelrol om te kan praat en sluk.



OOREENKOMS

Die saak is vir bemiddeling verwys en is vir 20 November verlede jaar geskeduleer, met Jacomina Jacobs wat as die bemiddelaar aangestel is.

Gaingos en die ministerie van gesondheid het hul bemiddelingsbevele van drie bladsye een of twee weke voor die verrigtinge in November ingedien.

Francois Bangamwabo, wat Gaingos verteenwoordig het, en Panderee Kamarenge, wat namens die ministerie opgetree het, het daarna ’n skikkingsooreenkoms bereik.

Die gedetailleerde skikkingsooreenkoms, wat op 17 Januarie op die ministerie van justisie se aanlyn stelsel bekend gemaak is, dui aan dat die ministerie N$110 000 in een paaiement sal betaal, gratis sielkundige berading sal verskaf en N$15 000 sal bydra tot Gaingos se regskoste.

Gaingos het oorspronklik vergoeding gesoek vir emosionele skok en trauma ten bedrae van N$400 000, toekomstige mediese uitgawes wat verband hou met sielkundige berading van altesaam N$300 000 en begrafnisuitgawes ten bedrae van N$50 000.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 18° | 33° Rundu: 19° | 34° Eenhana: 22° | 35° Oshakati: 24° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 19° | 33° Omaruru: 21° | 35° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 21° | 35° Henties Bay: 17° | 21° Swakopmund: 17° | 19° Walvis Bay: 17° | 23° Rehoboth: 21° | 31° Mariental: 23° | 35° Keetmanshoop: 18° | 34° Aranos: 24° | 35° Lüderitz: 14° | 27° Ariamsvlei: 18° | 33° Oranjemund: 14° | 24° Luanda: 26° | 28° Gaborone: 22° | 38° Lubumbashi: 16° | 24° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 18° | 33° Antananarivo: 17° | 28° Lilongwe: 17° | 24° Maputo: 23° | 36° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 18° | 24° Durban: 20° | 29° Johannesburg: 22° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 17° | 23° Harare: 15° | 26° #N/A #N/A