• Tuisblad
  • Howe
  • Ma wys glo geen besorgdheid oor ‘vermoorde’ dogter
The Nkatas and Rachel Kureva
The Nkatas and Rachel Kureva

Ma wys glo geen besorgdheid oor ‘vermoorde’ dogter

Rita Kakelo
“Nadat ek myself voorgestel het en vir haar gesê het hoekom ek daar was, het haar [Rachel Kureva] reaksie geen besorgdheid getoon nie. Sy het nie gevra oor Akundaishe nie, wat vir my vreemd was en my vermoede verder bevestig het.”

Só het kommissaris Nelius Becker Woensdag in die hoërhof getuig in die moordverhoor waarin drie Zimbabwiërs teregstaan op die moord van die negejarige Akundaishe Chipomho in Januarie 2020. Becker was destyds die hoof van die polisie se direktoraat vir kriminele ondersoeke en is nou die hoof van die polisie se Forensiese Wetenskapinstituut.

Becker het destyds na die Jatties Park-woonstelblok in die omgewing van Rhinopark gegaan waar die drie beskuldigdes – ’n egpaar, Caroline en Edward Nkata, en Akundaishe se biologiese ma, Rachel Kureva – gewoon het saam met twee klein seuns, ’n baba en die oorledene.

Volgens hom het hy Kureva by die huis gevind. Ná ’n gesprek met Kureva het hy haar glo in kennis gestel dat hy haar in hegtenis gaan neem in verband met die moord op haar dogter.

“Sy het gevra om haar niggie te bel om haar te vra om na hul woonstel toe kom om dit te sluit, wat ek toegelaat het. Toe sy na bewering met die niggie gepraat het, het sy in ’n ander taal gepraat sodat ons nie kon uitmaak wat sy sê nie.

“Ons het vir die niggie gewag, maar sy het nooit opgedaag nie. Een polisiebeampte het gevra om die nommer te sien wat sy gebel het en dit is toe ons besef het dat sy vir Edward gebel en hom gewaarsku het,” het Becker getuig.

Volgens Becker se getuienis het mense in die woonstelblok gesien hoe Edward Nkata die kinders slaan.

ONDERSKEP

Die Nkata-egpaar word daarvan beskuldig dat hulle die liggaam van die negejarige in ’n munisipale drom in Windhoek-Noord gegooi en aan die brand gesteek het.

Hulle is daarna by ’n padblokkade naby Otjiwarongo aangekeer terwyl hulle glo probeer het om landuit te vlug.

Die drie staan tereg op verskeie aanklagte van onder meer moord, poging tot moord, aanranding, dwarsboming van die gereg, bedrog, vervalsing van handtekeninge en die versuim om nodige mediese hulp aan ’n kind te bied.

Die drie het ook glo vir die polisie gesê dat Akundaishe in Zimbabwe saam met haar biologiese pa was toe hulle gevra is waar sy was.

Hulle het nie skuldverduidelikings gegee nie en het by monde van hul regsverteenwoordigers Mbanga Siyomunji (vir Edward), Milton Engelbrecht (vir Caroline) en Joseph Andreas (vir Rachel) gesê dat die staat hul skuld op al die aanklagte moet bewys.

Die staatsaanklaer is Ethol Ndlovu en die verhoor sal vandag in die hoërhof in Windhoek voortduur voor regter Philanda Christiaan.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 24° | 39° Rundu: 24° | 36° Eenhana: 22° | 34° Oshakati: 24° | 32° Ruacana: 22° | 32° Tsumeb: 22° | 31° Otjiwarongo: 20° | 29° Omaruru: 22° | 35° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 22° | 31° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 24° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 22° | 36° Keetmanshoop: 23° | 36° Aranos: 23° | 37° Lüderitz: 14° | 26° Ariamsvlei: 22° | 37° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 23° | 31° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 17° | 31° Maseru: 14° | 29° Antananarivo: 15° | 32° Lilongwe: 21° | 31° Maputo: 22° | 34° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 18° | 25° Durban: 21° | 27° Johannesburg: 19° | 26° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 22° | 34° Harare: 20° | 33° #REF! #REF!