• Tuisblad
  • Howe
  • Madisia glo ’n wrak ná Wasserfall se dood
Die beskuldigde, Steven Mulundu. Foto Iréne-Mari van der Walt
Die beskuldigde, Steven Mulundu. Foto Iréne-Mari van der Walt

Madisia glo ’n wrak ná Wasserfall se dood

‘Sy is my suster’
Azaan Madisia se broer en medebeskuldigde het getuig sy was buite haarself ná Shanon Wasserfall se dood.
Iréne-Mari van der Walt
Volgens die moordbeskuldigde Azaan Madisia se broer en medebeskuldigde, Steven Mulundu, was Madisia kort ná die beweerde moord op Shanon Wasserfall ooglopend ontsteld.

“Die toestand waarin ek die eerste beskuldigde (Madisia) gekry het ... sy was ’n wrak; sy was nie haarself nie. Ek het haar jammer gekry,” het Mulundu getuig.

Hy het Woensdag die getuiebank ingeneem nadat Madisia se getuienis afgehandel is en die staat het gister met kruisondervraging voortgegaan.

Volgens Mulundu het Madisia hom omstreeks 17:00 op die dag van Wasserfall se dood gebel en gevra hy moet na haar woonstel gaan. Sy het glo geen verdere besonderhede met hom gedeel nie en aangedring dat hy moet kom.

“Sy het bewerig gelyk en met ’n bewerige stem gepraat. Sy het senuweeagtig gelyk,” het hy getuig.

Mulundu het aan die hof gesê hy het voorgestel dat hulle die polisie of ’n ambulans bel, maar sy het dié voorstelle van die hand gewys uit vrees vir haar inhegtenisname.

‘SY IS MY SUSTER’

Sedert sy kinderdae as vyf sibbe, het hy getuig, was hy die meeste aan Madisia geheg.

“Ek het persoonlike dinge met Azaan gedeel wat ek nie met die ander gedeel het nie. Ek was stout as kind en sy was gereeld die een wat tot my redding gekom het. Ek het net gedink, ná alles wat gebeur het, hoekom sou ek haar nie help nie?”

Hy het weens Madisia se verduideliking geglo Wasserfall se dood was ’n ongeluk. Hy het getuig sy het dit nooit pertinent gestel dat Wasserfall se dood ’n ongeluk was nie, maar hy kon dit aflei.

Hy het later in sy ondervraging aan die hof gesê hy kon geen teken vind dat Madisia se weergawe aan hom onwaar was nie. Hy het gesê haar verduideliking voor die hof stem ooreen met haar oorspronklike verduideliking aan hom.

Mulundu het ontken dat hy op die dag van Wasserfall se dood in Madisia se woonstel teenwoordig was voor sy hom gebel het.

MULUNDU SÊ JAMMER

Mulundu het ook, nes Madisia, tydens sy getuienis aan Wasserfall se familie verskoning gevra.

“Ek het julle van ’n behoorlike begrafnis vir hul dogter ontneem. Daar is geen manier dat ek kan terugdraai nie; wat gedoen is, is gedoen,” het hy gesê.

LYK WAS GLO SIGBAAR

Mulundu het tydens ondervraging getuig dat geen doelbewuste poging aangewend is om Wasserfall se liggaam toe te maak toe hulle haar vervoer het nie. “Shanon se liggaam was sigbaar indien iemand sou kyk,” het hy getuig.

Hulle het geen gereedskap saamgeneem om ’n graf te grawe nie en haar liggaam was sigbaar bo die grondoppervlak nadat hulle haar in die vlak graf geplaas het.

BLOEDMERKE

In sy vorige verklarings is genoem dat daar bloedmerke op Madisia se beddegoed was toe sy dit van haar bed verwyder het. Mulundu het egter aan die hof gesê hy het dit nie vir die polisie gesê nie.

Hy het ook getuig oor die verskille tussen sy weergawe dat Madisia haar beddegoed verwyder het en haar weergawe dat sy die beddegoed “reggetrek” het. “Ek het verneem dat sy die beddegoed verwyder het, maar dit kan wees dat sy dit reggetrek het,” het hy getuig.

Kommentaar

Republikein 2024-11-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 35° Rundu: 19° | 35° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 23° | 35° Ruacana: 22° | 35° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 20° | 33° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 23° Rehoboth: 21° | 33° Mariental: 21° | 37° Keetmanshoop: 21° | 38° Aranos: 22° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 20° | 39° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 35° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 17° | 29° Maseru: 16° | 31° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 32° Windhoek: 20° | 33° Cape Town: 16° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 16° | 31° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 20° | 32° Harare: 18° | 28° #REF! #REF!